Vermeende brandstofdiewe vas oor moord op polisieman

(Argieffoto: SA Polisie)

Vier mense is agter tralies nadat hulle Maandagaand glo diesel gesteel en daarna losgebrand het op die polisiebeamptes wat hulle op heterdaad betrap het.

Die vier verdagtes, Paulino Ticha Quembo (33), Nelson Mudavanhu (34), Lawrence Simango (34) en Dennis Spencer Chipenza (35), word daarvan verdink dat hulle veiligheidswagte by ʼn myn naby die N4 in die Middelburg-omgewing met vuurwapens gedreig en toe ʼn dieseltenkwa geroof het.

ʼn Lid van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het inligting oor die rooftog ontvang en ʼn kollega by die Middelburg-speurtak ontbied waarna hulle in die omgewing van Stofberg begin leidrade opvolg het.

Op die pad het hulle afgekom op ʼn geel tenkwa wat ooreengestem het met die beskrywing van die vermiste dieseltrok en hulle het dit voorgekeer, sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke.

Drie insittendes het uit die vragmotor gespring en op die beamptes losgebrand.

“Tydens die skietery is sers. Simon Mbonani (43) gewond. Hy het later aan sy beserings beswyk,” sê Sekgotodi.

“Sers. Raphael Sthembiso Magubane (43) is ernstig beseer en na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.”

Drie pistole en verskeie koeëls is op die toneel gevind, terwyl die polisie ook beslag gelê het op vyf selfone.

Die vier beskuldigdes is kort daarna tydens ʼn opsporingsoperasie deur lede van die Valke se eenheid vir georganiseerde misdaad op Middelburg, en lede van die misdaadintelligensie-eenhede op Middelburg en KwaMhlanga aangekeer.

Die vier staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord en gewapende roof.

Hulle verskyn volgende week weer in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.