Verpleegstersopleiding in gedrang weens minister se gesloer

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, sal Woensdagoggend in ‘n leeukuil instap wanneer hy die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid sal toespreek en vrae beantwoord rakende die opleiding van verpleegsters.

Hy sal ook moet verduidelik hoe die regering van voorneme is om voort te gaan met Nasionale Gesondheidsversekering gegewe dat al die loodsprojekte daarvoor klaaglik misluk het.

Wat die opleiding van verpleegsters betref het die VF Plus-LP Philip van Staden verlede week uitgewys dat Mkhize se gesloer met die ondertekening van regulasies vir verpleegopleiding kan beteken dat geen verpleegsters in 2020 tersiêr opgelei sal kan word nie. Dit is omdat die huidige regulasies vir opleiding aan die einde van die jaar verval, maar dat daar ‘n lang vertraging was met die ondertekening van die nuwe opleidingsregulasies deur die minister.

Die minister het uiteindelik verlede Donderdag die nuwe regulasies onderteken. Navrae deur Maroela Media het aan die lig gebring dat ‘n maand nou vir openbare insette toegelaat word sodat tersiêre instellings glad nie genoeg tyd sal hê om sillabusse, handboeke en vakinhoud te finaliseer nie.

Minstens een instelling, die Universiteit Stellenbosch, het die probleem vir aanstaande jaar voorsien en vanjaar dubbeld hul gewone getal studente opgelei.

Die mees voor die hand liggende oplossing is om die nuwe regulasies met ‘n jaar te vertraag en die huidige regulasies met ‘n jaar te verleng ten einde te verseker dat aanstaande jaar se voornemende studente kragtens die ou regulasies kan studeer, want daar is nie genoeg tyd om die nuwe regulasies volgende jaar te implementeer nie.

Sowel Van Staden as die DA-LP Siviwe Gwarube het onderneem om die minister Woensdag in die komitee onder ernstige druk te plaas om die ou regulasies te verleng. Gwarube het uitgewys dat sowel spesialisrigtings as primêre gesondheidsorgopleiding geraak word en dat die huidige situasie die bestaande tekort aan verpleegsters kan vererger.

Wat die nasionale gesondheidsversekering betref het Gwarube gesê sy sit die stryd daarteen namens die DA voort, want die ANC wil ‘n ideologiese plan deurdruk wat gesondheidsdienste kan kelder.

Die DA het sowel die amptelike verslag met die omvang van die mislukkings as die ouditeur-generaal se verslag oor die wanbestuur van die R5,1 miljard wat vir die loodsprojekte bewillig is, aan die lig gebring, en Gwarube gaan die minister Woensdag met sowel die syfers as sy versuim om dit openbaar te maak, konfronteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

skurweberg ·

Gaan die belastingbetaler aanhou om hierdie wanbestuur van belastinggeld te verduur? Hoe magteloos is ons werklik?

Kootjie ·

Magteloos is die woord! Want hulle het die hef in die hand!! En om te besluit…….ure..en dae…. se tyd!! Maar hulle vergeet! As vandag verby is en jyt nie gedoen wat jy moes nie…. is vandag vir ewig verby!! En jy sit met jou hande in die hare en wonder hoe gaan jy nou jouself uit hierdie situasie uit kry!!

Gert van Wierdapark ·

Die situasie laat my dink aan Des Lindberg se liedjie, die “Gezoem van die Bye”, waar hy onder meer sing van die brandewyn dam waar die lammers lam, en dan ook “Die ministers minis vir die vale! In ons uitstekende Kakistokrasie is sulke versuim en laksheid mos te verstane!” Say no More”! He-he-he!!!

Jo B ·

Gaan ons nooit leer en verstaan nie???…. Hulle sloer al vir 25 jaar en dit gaan NOOIT verander nie. Jy wat hierdie berig gelees het weet dit ook.

Salva ·

Vanjaar het staatspasiënte feitlik elke maand n verskillende soort bloeddruk pil gekry. Medikasie vir maagsere sas net 25 – 50% die normale sterkte. Dis nou maar waarvan ek weet. Wat gaan onder die ngv gebeur.

Kobus ·

Eersrens die ou speel Politiek met menselewens en dit gaan hom.nie aan nie solank hy die Kitaar kan slaan met NVG .
DA – jullecgeblaf beteken ook niks

Anita ·

Waarom lei solidariteit nie verpleeg studente op nie? of ‘n hulp kursus vir assistent verpleging daar is veel volwaardige voordien opgeleide afgetrede Hospitaal personeel die met dit behulpsaam kan wees, want die huidige opleiding mag teoreties wees maar nie prakties nie en pasiënte kry ‘n virus in sommige hospitale…miskien omdat die skoon van die sale nie maar na wens is nie……Hierdie kan Solidariteit se opleiding versterk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.