Verslag oor bioveiligheid laat gevaarligte flikker

Die begroting plaas veral groot klem op voedselsekerheid. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

ʼn Verslag oor die diere-bioveiligheidsmaatreëls in Suid-Afrika skets ʼn donker prentjie van die huidige stand van sake en kom boonop te midde van ʼn ernstige entstoftekort wat chaos in die veebedryf saai.

Die taakspan oor diere-bioveiligheid het sy verslag oor diere-bioveiligheid al in Mei verlede jaar afgehandel, maar dit is nou eers, ná groot druk uit die landboubedryf, bekend gemaak. Die verslag stippel onder meer die velerlei en ernstige mislukkings in veeartseny- en diere-bioveiligheidstelsels uit en bestempel die stelsels as “gebroke”.

Agri SA sê verskeie uitdagings staar die landboubedryf in die gesig, maar bioveiligheidsmaatreëls moet as een van die dwingendste beskou word.

Van die probleme wat in die verslag uitgewys word, sluit in alles van institusionele probleme en begrotingsbeperkings, tot die produksiebeperkings by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP).

OBP is verantwoordelik vir die vervaardiging van entstowwe vir die landboubedryf.

“Hierdie bevindinge bevestig die kommer wat die sektor al herhaaldelik geopper het en beklemtoon die omvang van die bedreiging wat bioveiligheidsmislukkings vir voedselsekerheid in die land inhou,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Daarom verwelkom Agri SA die verslag.”

Die verslag maak ook verskeie aanbevelings om probleme op kort, medium‑ en lang termyn te pak en Van der Rheede sê noudat die verslag – en die ware stand van bioveiligheid bekend is – kan geen verdere tyd gemors word om iets daaromtrent te doen nie.

Die taakspan is aangewys om ondersoek in te stel na die kwessie van diere-bioveiligheid en die rol wat die staat veronderstel is om daarin te speel.

“Dit is nou van kritieke belang dat die regering, in vennootskap met die bedryf, saamwerk om die probleme wat geïdentifiseer is met groot dringendheid te pak. Hierdie saak moet ʼn prioriteit van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wees,” sê Van der Rheede.

“Eweneens moet die bestuur van OBP, wat verantwoordelik is vir die tydige vervaardiging van entstof, en die amptenare verantwoordelik vir bioveiligheidsbestuur, aanspreeklik gehou word vir die versuim om betyds stappe te doen op grond van die aanbevelings in die verslag.”

Die verslag beklemtoon ook dat besluite wat die staat neem, gekenmerk word deur wantroue van die private sektor.

“Dit het gelei tot die herhaaldelike weiering om groter betrokkenheid uit die private sektor toe te laat; ʼn bron van kommer wat die bedryf al verskeie kere geopper het.”

Van der Rheede sê noudat die kwessie uitgewys is as ʼn hindernis vir doeltreffende bioveiligheid, moet ʼn oplossing daarvoor geprioritiseer word.

“Dit is die enigste manier om te verseker dat die land voldoende en geredelik beskikbare entstowwe het, en dat tydige ingrypings ingestel word om die uitbreking van dieresiektes te voorkom en te bestuur.”

Van der Rheede sê baie dringende uitdagings staar die landbousektor in die gesig, maar biosekerheid moet as een van die dringendste erken word.

“Met die verslag oor die ware stand van biosekerheid wat nou bekend gemaak is, het ons geen tyd om te mors om die uitdagings wat dit identifiseer, te hanteer nie. Suid-Afrika se voedselsekerheid hang daarvan af.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

H.A. ·

Hulle wil die boere weg hê, en hulle sal al die vleis invoer vanaf hulle vriende.

Johan ·

Indien jy nog van die staat afhanklik is vir iets, het jy moeilik. Begin ONMIDDELLIK jul eie entstof fasiliteit. Hou wel op kla, want dit help niks, aanvaar dat ALLES waaraan die staad raak op die ou ent nie meer gaan bestaan nie…behalwe SARS natuurlik.

Nico ·

Die voedsel voorrade gaan nie lank hou nie met die geweldige groei van die populasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.