VF Plus-sukses vir plaaslike toerisme

VF Plus-LP Michal Groenewald; minister van toerisme Patricia de Lille; en VF Plus-LP Tammy Breedt (Foto verskaf)

Die minister van toerisme, Patricia de Lille, het vandag tydens ʼn vergadering met die VF Plus en lede van die plaaslike toerismebedryf in Noordwes en die Vrystaat, haar sterk steun uitgespreek vir die VF Plus se inisiatief om georganiseerde toerisme op plaaslike vlak en in landelike gebiede te versterk.

Die vergadering volg nadat die VF Plus in 2023 ʼn inisiatief van stapel gestuur het om die potensiaal van plaaslike toerisme as ʼn sleuteldrywer van plaaslike ekonomieë te ontgin.

“In samewerking met plaaslike toerisme-ondernemings aan die oewers van die Vaalrivier is besluit om ʼn toerisme-entiteit, die Vaal Korridor Toerisme Assosiasie (VKTA) te stig as ʼn meganisme om onder meer beter skakeling met die owerhede te bewerkstellig,” sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor toerisme. ʼn Komitee is aangestel en 54 toerisme-ondernemings vanaf Lindequesdrift tot by Bloemhof is betrek.

“Meer as vyftig potensiële toerisme-korridors landwyd is ook geïdentifiseer wat gevestig sal word ter opvolging van die suksesvolle vestiging van die VKTA.”

Groenewald sê ʼn verkenningsgesprek is op 14 April 2023 met die minister gehou waartydens sy ook plaaslike oorde besoek het wat gely het onder die vloedskade van Februarie 2023. Die verval van plaaslike toerismegeriewe onder die beheer van ANC-beheerde plaaslike owerhede is ook beklemtoon.

“Minister De Lille het vandag ook ʼn vaste onderneming gegee om dringend ʼn proses te fasiliteer sodat die VKTA by bestaande korporatiewe toerisme-strukture soos die Tourism Business Council of South Africa (TBCSA) inskakel om plaaslike toerisme ten volle te benut en te ontwikkel.”

Dit sal klein tot mediumgroot-toerismeondernemings ook toegang gee tot amptelike regeringsinisiatiewe om hul geriewe en dienste internasionaal te bemark.

“Die VF Plus het die minister bedank vir haar konstruktiewe benadering en die erkenning wat sy gee aan die positiewe bydrae van plaaslike toerisme tot voordeel van die land. Die VF Plus sal voortgaan om die bemagtiging van die plaaslike en landelike toerismesektor te bevorder as deel van sy program vir die heropbou van die hele Suid-Afrika.”

Groenewald sê dit is belangrik dat kiesers op 29 Mei met hul stem verseker dat ʼn sterk koalisieregering waarvan die VF Plus ʼn integrale deel vorm, in regering geplaas word. “Suid Afrika kan nie meer die verval en ekonomiese wanbestuur van die ANC-regering bekostig nie. Saam kan ons herstel en bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Hoe lief is almal vir mekaar. Vir moet ons nou stem?

Wikkie ·

VF Plus nooi seker oorseese transseksueles om hier te kom toer. Hulle ondersteun mos daardie tipe van goed. Hulle het my ondersteuning en stem summier verloor. Almal wat ek ken, wat ook voorheen VF Plus ondersteun het, sê ook hulle kan, uit beginsel, nie weer die VF Plus ondersteun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.