Video: Blinkoog matrieks opgewonde oor toekoms

Agter van links: Lizelle Pieterse, Kayla Lloyd, Heinrich Smuts, Graham Smith, Stephan Theron, CJ Oberholzer, Anja Reyneke en Micarney Janse van Vuuren.
Voor van links: Charlize Pieterse, Tasha Jacobs, Juffrou Tina Myburgh, Cameron Lee Renwick, Landè Engelbrecht (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media/

Matrieks oor die hele land het Vrydag vir oulaas by die skool aangemeld om hul matriekuitslae af te haal.

Leerders aan die Hoërskool Zwartkop in Centurion, Gauteng, het Vrydagoggend met groot verwagting die skoolterrein betree. Dié skool spog met ʼn matriekslaagsyfer van 99,1%.

Die 330 leerders – geklee in civvies – lyk op die oog af slaggereed om die volwasse wêreld aan te pak, maar in hul harte sit die herinneringe van matriek egter nog vlak.

“Hoewel ons nie weet wat om daarbuite te verwag nie, is ons opgewonde oor die nuwe hoofstuk in ons lewe,” vertel een van die leerders.

Tussen die glimlagte deur merk jy ʼn groep leerders met ʼn besonderse glinstering in hul oë. Hierdie leerders is die room van die klas: die toppresteerders wat almal ses onderskeidings en meer gekry het.

Vir hierdie leerders was matriek ʼn lekker dog uitdagende jaar, maar hulle voel heel tevrede met die vrugte wat hulle nou vir hul harde werk kan pluk.

Van links: Stephan Theron, Karli Weinmann en Anja Reyneke (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Stephan Theron spog met nege onderskeidings en is as vanjaar se dux-leerder aangewys. Hy gaan vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom studeer.

“Ek het heelaand wakker gelê en stres oor my punte, maar is dankbaar dat ek die onderskeidings behaal het waarvoor ek gehoop het,” vertel Theron aan Maroela Media.

Gazelle Jordaan en Jan-Henri Sterk (Foto: Anja van der Merwe/MaroelaMedia)

Gazelle Jordaan (nege onderskeidings) en haar kêrel, Jan-Henri Sterk (agt onderskeidings), het mekaar dwarsdeur die jaar gemotiveer en nie té ver vooruit oor dinge “geworry” nie. Albei gaan medies aan die Universiteit van Witwatersrand (Wits) in Johannesburg studeer.

Alicia Arnold, Jaco Pretorius, Anja Reyneke, Karli Weinmann, Graham Smith, Micarney Janse van Vuuren, Cameron Lee Renwick, Lizelle Pieterse, Amike Jacobs, Kayla Lloyd, Hanno Boot en Landè Engelbrecht het elkeen agt onderskeidings behaal.

Weinmann het tweede beste in haar graad presteer.

Graham Smith (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Dié slimkop gaan medies aan die Universiteit Pretoria (UP) studeer en wil daarmee graag ʼn verskil in mense se lewe maak.

“My passie is om met mense te werk,” vertel Weinmann.

Die meeste van dié leerders wil in ʼn rekenkundige, mediese of wetenskaplike rigting studeer.

Smith is as die mees veelsydige leerder vir die jaar aangewys.

Wanneer hy nie boeke en boeke vol opsommings gemaak en geleer het nie, het hy uitgeblink in sport en kultuur.

Smith het besluit om vanjaar teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) te studeer. Sy tweede keuse was astrofisika.

“Die Here het my dit op die hart gedruk om iets vir sy kerk te doen en ek hou daarvan om in sy Woord te delf. Ek het ook in die kerk grootgeword met ʼn dominee-pa, maar ek weet nog nie of ek self ʼn dominee wil word nie,” vertel Smith.

Maar wat is die geheim agter hierdie leerders se akademiese sukses?

“Kry jou prioriteite in plek en handhaaf balans en goeie tydsbestuur. Om te rus en tyd saam met jou vriende deur te bring is net so belangrik soos om tyd te maak vir leer,” het van die leerders gesê.

Die meeste van die leerders het ook gesê die ondersteuning van vriende, onderwysers en ouers is broodnodig.

“Verder moet jy op die Here vertrou.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jakez ·

Fantasties – welgedaan aan almal en sterkte met julle studies!

kaplyn ·

Baie geluk al die seuns en dogters. Nou is julle nie meer skoliere nie, maar julle is nou volwassenes. Voorspoed met al die studies en al die uitdagings van die volwasse lewe. Hou julle koppe hoog en kyk op na bo.

Yolandie ·

So trots op julle prestasie, baie geluk!!! Welverdiend. Mag daar net nog groter sukses op julle wag.

Papsak ·

Well done aan al ons prag kinders en sterkte vorentoe met julle studies lyk pragtig mooi n plesier

Perdeby ·

Ek vermoed ek lees eers weer MM so oor 3 weke, wanneer daar nie meer matriekfoto’s is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.