Video: Brande buite beheer by Daniëlskuil

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Brand wat Maandag in die omgewing van Postmasburg ontstaan het, het teen Saterdag tot teen Daniëlskuil versprei en verwoesting gesaai.

Die brand het teen Woensdag al naby Daniëlskuil gedraai en daar is gespook om die brand te probeer blus weens die moeilike terrein nadat dit in die berge begin woed het.

Volgens Eben Anthonissen, voorsitter van omgewingsake by Agri Noord-Kaap, het drie huise al afgebrand, maar daar kon gekeer word dat die brand deur die dorp beweeg. Dit het egter weer in die berge versprei.

Video’s en foto’s van die brand wys hoe dit in ʼn stadium reg langs ʼn vulstasie by Daniëlskuil verwoed gebrand het. Anthonissen het gesê daar word beraam dat 100 000 ha al in die slag gebly het. Daar sal wel eers skadebepaling gedoen kan word sodra die brande heeltemal geblus is. Buiten die groot hoeveelheid weiding wat verloor is, is daar ook vermoedelik veeverliese.

Die brand het deur die week verskeie kere oor die R31-pad tussen Kuruman en Daniëlskuil gespring. Vliegtuie is vir lugsteun ingespan terwyl boere en vrywilligers onverpoos werk om die brand te probeer blus. Spanne van Working on Fire (WoF) en brandbestrydingsverenigings van die plaaslike munisipaliteite is ook by die pogings betrokke.

Die Noordwes Sambreelbrandbeskermingsvereniging (NWUFPA) is vir koördinering geaktiveer. Brandbestrydingspogings word deur sterk winde bemoeilik en die brand is nog nie in bedwang gebring nie.

Agri Noord-Kaap se stigting werk intussen om onmiddellike verligting te probeer bring aan diegene wat geraak word. Dit sluit onder meer in om voer in die hande te kry vir boere wat deur die brande geraak word en om hulle finansieel by te staan in die brandbestrydingspogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.