Video: Jong musiekgenie maak plan vir eie klavier

(Foto: Verskaf)

Wanneer Jason Haas se vingers oor die klawers begin vlieg, speel hy alles om hom stil … en nadat hy die eerste keer sy oë (en hande) op ʼn klavier gelê het, was daar niks wat hom méér kon begeester nie.

Die 15-jarige klaviergenie het nie eens sy eie klavier nie, maar Jason gaan nie toelaat dat dít tussen hom en sy grootste droom staan nie. Daarom het hy – sonder sy ma se medewete – ʼn skarefinansieringsveldtog op die been gebring om hom te help om ʼn klavier van sy eie te besit.

Jason se musikale reis het volgens hom reeds op vierjarige ouderdom begin – “toe die melodieë van my ouma se stokou klavier my die eerste keer bekoor het”. Op ses jaar het hy homself ingewikkelde musiekstukke op gehoor geleer speel. Dit is eers onlangs dat hy geleer het om bladmusiek te lees.

Volgens sy ma, Leanne, wat rotsvas agter haar oudste staan, het Jason se liefde vir musiek “eintlik al begin nog voordat hy gebore is”. Jason se pa is van ʼn baie vroeë ouderdom nie betrokke in sy lewe nie.

“Toe ek met hom swanger was, het ek gereeld na klassieke musiek geluister omdat ek gelees het dat dit ʼn baba se geheue beter ontwikkel, asook intelligensie en kreatiwiteit kan stimuleer. So ek het dit probeer, en dit lyk vir my of dit definitief gewerk het,” skerts Leanne.

Sy sê hy was as kind altyd ongelooflik gefassineerd met enigiemand of enigiets wat musiek kon maak. “Wanneer ons op Sondae terugkom van die kerk – nadat hy hom aan die orkes verkyk het – het hy sy ouma se kaste leeggemaak op soek na ʼn pot of pan en houtlepels waarmee hy ‘dromme’ kon speel.”

Leanne het later vir Jason ʼn xilofoon gekoop – sy heel eerste instrument. Die tiener vertel dat hy die instrument ongelooflik waardeer en geniet het en dat dít sy liefde vir die klavier aangewakker het, “omdat die twee instrumente baie dieselfde is”.

Hy vertel ook dat hy gereeld as kind met sy ma se kitaar – met slegs twee snare – gespeel het, en dat sy liefde en passie vir musiek (en veral die klavier) saam met hom bly groei het.

Geïnspireer deur die komposisies van sy gunsteling- klassieke komponiste, Frederic Chopin en Franz Liszt, en ten spyte van die afwesigheid van formele klavierlesse, het Jason onverskrokke ingewikkelde stukke aangepak en homself vinnig as ʼn uitstaande talent in die musikale gemeenskap gevestig. Om Canon in D major op gehoor te bemeester, het die begin van ʼn reis aangedui wat deur vreeslose verkenning en onwrikbare vasberadenheid gekenmerk is.

Foto: Verskaf)

“Ek weet nie regtig hoe ek dit reggekry het om stukke soos Canon in D major te speel nie. Dit het net vanself gekom.

“My ma is mal oor die liedjie en sy het dit van ʼn baie jong ouderdom af gereeld vir my gespeel. Sy het my ook gereeld aangehits om die liedjie self te leer vir ingeval sy eendag trou, sodat ek dit op haar troue kan speel.

“Ek het baie na die liedjie geluister en my vingers oor die klawers laat val, totdat dit vir my reg geklink het. Deur die jare het ek dit reggekry om ʼn goeie musikale oor te ontwikkel,” sê Jason.

Jason Haas en sy gesin (Foto: Verskaf)

Jason was verlede jaar ʼn leerder aan die Oos-Randse Kunsteskool, waar ʼn vriendin hom meegedeel het dat die jeugorkes waarvan sy deel is, ʼn pianis benodig.

“Ek het die geleentheid aangegryp, en nou is ek die pianis vir die Oos-Randse Jeugorkes,” vertel Jason trots.

Hy het nie eens nodig gehad om oudisies af te lê nie; hy het homself bloot voorgestel, by die klavier gesit en ʼn integrale deel van die ensemble geword, dít ten spyte daarvan dat hy eers die vorige jaar geleer het om bladmusiek te lees, alles te danke aan sy klavieronderwyser, mnr. J Manamela, wat ʼn mentor en vriend geword het.

Jason moes egter die skool verlaat, omdat hy isiZulu of Sepedi as huistaal sou moes neem, en nie een van die twee kon praat nie.

Nou kan Jason slegs tydens repetisies saam met die orkes op Saterdae klavier speel en af ​​en toe wanneer hy en sy gesin by sy oom gaan kuier.

Vasberade ten spyte van uitdagings

Jason Haas en sy ma, Leanne (Foto: Verskaf)

Met sy ma wat die enigste broodwinner is, het dinge soms ʼn bietjie moeilik by die huis gegaan, vertel Jason.

“Ek weet sy doen altyd haar bes en ek wou nie verdere druk op haar plaas nie. ʼn Klavier is ongelooflik duur, en om my ma te vra om vir my ʼn klavier te koop, was net nooit ʼn opsie nie.

“So ek het maniere op die internet gaan soek om geld in te samel om ʼn tweedehandse swart Middleford-vleuelklavier aan te skaf, waarna ek op BackaBuddy afgekom het.”

Met byna R10 000 wat deur die vrygewigheid van skenkers ingesamel is, is Jason se droom nader aan die werklikheid as ooit tevore.

“Ek het nooit gedink dat my storie so baie aandag sal trek nie. Dit is oorweldigend en ek is ongelooflik dankbaar.”

Jason is ook onlangs deur die Drakensberg-seunskoor genader om in die nabye toekoms ʼn solo-stuk by hul konsert uit te voer. Hy vertel dat hy ongelooflik opgewonde is daaroor en dat hy nou sien hoe al sy drome waar kan word as hy daarvoor veg.

Leanne vertel ook dat sy aangenaam verras was toe sy uitvind dat Jason self eie inisiatief geneem het om sy droom te bewaarheid.

“Ek sien uit daarna om te sien wat die Here vir hom beplan het, hy gaan nog groot hoogtes met sy ‘go-getter’-houding bereik. Hy is regtig ʼn goeie kind en verdien om raakgesien te word in die musikale wêreld.”

Jason Haas (Foto: Verskaf)

Jason droom boonop daarvan om internasionale bekendheid as ʼn pianis te behaal, ʼn toekoms vol wêreldtoere, optredes by gevierde konserte, en om sy passie vir klassieke musiek wêreldwyd te deel.

Jason beoog ook om by te dra tot die musiekwêreld deur instrumente te ontwerp en om boeiende YouTube-inhoud te vervaardig om kinders te motiveer om hul musikale passies na te streef. Hy wil ook musiek in Duitsland gaan studeer.

“Ek wil ʼn klavier kan ontwerp wat dit vir mense met soortgelyke omstandighede moontlik maak om ʼn klavier van hul eie te besit.

“Ek wil vir mense wys al jou drome kan waar word as jy net jou beste gee en in God bly glo.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.