Video: Noue ontkoming vir tieners op strand

Lede van die publiek en die nooddienste spook om die tieners te bevry. (Foto: Verskaf)

’n Tienermeisie was Dinsdag tot by haar ken in sand vasgekeer toe sy en twee tienerseuns ’n gat op ’n strand in Salt Rock, KwaZulu-Natal, gegrawe het en die sandwal op haar en een van die tienerseuns meegegee het.

Die gat was na raming drie meter diep.

Lede van die publiek en die nooddienste het die twee jong mense te hulp gesnel nadat die derde tiener hulp ontbied het.

Samantha Meyrick, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê die tienerseun (18) was tot by sy middellyf vasgekeer en kon redelik maklik uit die sand bevry word. “Die meisie (17) was egter tot by haar ken in die sand vasgekeer.”

Paramedici op die toneel. (Foto: Verskaf)

Lede van die publiek en die nooddienste het verwoed met emmers in die sand gegrawe om die meisie te bevry. Sy is ná ’n gespook eindelik uit die sand bevry, maar het ernstige beserings gehad. Sy is op die toneel gestabiliseer voordat sy na ’n hospitaal vervoer is vir mediese behandeling.

Die tienerseun het geringe beserings tydens die noue ontkoming opgedoen en is ook hospitaal toe.

Meyrick sê die samewerking tussen lede van die publiek, asook lede van Specialised Rescue, IPSS Medical, IPSS Security en Netcare911 was ongelooflik.

“’n Wonderlike spanpoging van alle betrokkenes. ’n Groot dankie aan almal wat gesorg het dat hierdie jongmense lewend ontsnap het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.