Video: Sakeman se luukse huis gegryp

Thoshan Panday (Foto: http://www.pandagroupsa.com/)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het Maandag op Thoshan Panday, ʼn omstrede Durbanse sakeman, en agt ander se bates van ongeveer R165 miljoen beslag lê.

Die bates is aangeskaf met die opbrengs uit korrupte tenders tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010. Daar is onder meer op Panday se luukse huis beslag gelê.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, sê die batebeslagleggingseenheid en SOE het reeds op 29 Maart ʼn hofbevel in die Durbanse hooggeregshof vir die beslaglegging bekom.

Daar is ook beslag gelê op bates van Panday se eksvrou, Privisha Panday, sy ma, Arvenda Panday, swaer, Seevesh Maharaj Ishwarkumar, suster, Kajal Ishwarkumar, en assistent, Tasleem Rahiman.

Die ander beskuldigdes op wie se bates beslag gelê is, sluit in kol. Navin Madhoe, voormalige afdelingshoof van verkryging in voorsieningskettingbestuur by die kantoor van die provinsiale kommissaris, kapt. Ashwin Narainpershad, ʼn voormalige polisiekaptein, en Mmamonnye Ngobeni, ‘n voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal.

“Die kurator het die bankrekeninge van al die bogenoemde partye bevries en die uitvoering van die beslagleggingsbevel het vandag (Maandag) plaasgevind,” sê Seboka.

“Die keerdatum van die voorlopige bevel is 29 Mei. Verder is die sukses met die verkryging van die bevel grootliks te danke aan ondersoekers van die Valke wat saam met die SOE werk.”

Panday, Ngobeni, Madhoe en Narainpershad is in November 2020 in hegtenis geneem in verband met bewerings van tenderbedrog van R47,3 miljoen tydens die sokkertoernooi. Die ander vyf is in Mei verlede jaar in hegtenis geneem.

Meer as 200 klagte staar die beskuldigdes in die gesig. Dit sluit in bedrog, korrupsie, vervalsing, omkopery, geldwassery en rampokkery.

Die saak hou verband met bewerings van korrupsie oor verblyf vir KwaZulu-Natalse polisiebeamptes tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. Panday het glo met van die ander beskuldigdes saamgespan om verblyf aan polisiebeamptes te lewer, maar teen verhoogde tariewe.

Panday was die eienaar van Goldcoast Trading CC.

Sy betrokke familielede het in 2009 verskeie maatskappye (Valotone, Bravosat, Kaseev Dealers en Unite Mzansi) geregistreer en het die opbrengs dan na Panday herlei.

Ngobeni staan tereg op aanklag van korrupsie oor betalings wat vir haar man se verjaardagpartytjie gemaak is, ʼn versuim om die voordele bekend te maak wat sy van Panday ontvang het en ʼn aanklag van dwarsboming van die gereg.

Panday staan ook tereg op aanklag dat hy met Madhoe saamgespan het om omkoopgeld van R2 miljoen aan ʼn generaal oor te betaal om die ondersoek teen homself en Madhoe te laat verdwyn.

In die aansoek in die hof het die NVG aangevoer dat Panday die baasbrein agter die bedrogspul was, sê Seboka.

Die beskuldigdes sal na verwagting weer op 25 Augustus in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johanna ·

Maar goed my eenvoudige huis is betaal en dit is myne. Laat hul suffer die skelms

Johann ·

Daar gaan maar min van die geld recover word. Op die ou end is dit maar die belasting betaler wat weer moet instaan met die regskostes

Marthinus Johannes ·

Wonder wat word van al die bates wat so op beslag gelê word. Hoor nooit weer van al daardie R/c nie.

Kokerboom ·

Word verbeurt verklaar, verkoop en opbrengste gaan na staatskas….. hopelik sonder interne staatsbedrog!

Carolina ·

Van een skelm na die volgende een – government, en dan hoor jy nooit weer van dit nie????

Anel ·

Nou wanneer kry ou zumpie sy beurt? Hy het erger bedrog en diefstal gepleeg en steeds is hy vrye poot!!!!

George ·

Dan moet ons terug gaan in geskiedenis en almal onder die NP ook arresteer, dies wat nog leef.

Realis Thailand ·

Wat my pla is dat di mense ook in die hof verskyn en dan is daar nooit n uitslag in die sake.
Dat daar beslag gele is op die eiendom is goed maar hoeveel vooraf waarskuwing het die mense om vooraf geld uit die rekeninge te trek
Daar moet summier en dadelik gesorg word dat daar geen waarskuwing is nie
mag hulle ook in die huise aanbly? Wat help dit as dit so is

Danie ·

Amper n leeftyd in weelde kon hom maar gelos het terwyl armoede en swak gesondheid seevier.Misdaad blom pragtig onder die oe van n hulpelose,onbetroubare polisie diens en regstelsel.

Moedeloos ·

Vir 13 jaar leef hy soos n koning maar die mens op straat kripeer van ellende.

Di ·

Hoop die klomp skelms beland almal agter tralies waar hulle hoort!!

anko ·

Hopeful thinking. Wat het gebeur met al die ander wat reeds “uitgevang” is. Doodse stilte

Amelia ·

Die geld wat klomp spandeer het moet hul maar gaan werk as hul uit tronk kom (as hul ooit tronk toe gaan) en maar terug betaal laat hul maar ook onder broodlyn leef en bedel na werk die mense kom te maklik van weg met hul skelmstreke straf te lig en hul familie en vriende leef steeds op geld borg word ook met daai geld betaal

Stofdonkie ·

Bedrog wat dateer van 2010 af? Dis al 13 jaar later en hulle tree nou eers op, was hulle van plan om te wag dat hy eers doodgaan van ouderdom voor hulle begin met optrede teen hom?

SjN ·

Wat het geword van die R10 milj omkoopgeld waar Danny en Fikile betrokke was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.