Vier aangekeer ná transitorooftog

(Foto verskaf deur die Valke)

Vier verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn transitorooftog Vrydagoggend in Mpumalanga.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê ʼn pantservoertuig van Fidelity was van Malelane na Tonga op pad toe ʼn groep misdadigers hulle aangeval het.

“ʼn C-klas Mercedes-Benz het die Fidelity-voertuig ongeveer 15 km van die N4 van agter gestamp. Die bestuurder van die Fidelity-voertuig het beheer verloor oor die voertuig en die voertuig het omgeslaan.”

Die pantservoertuig is oopgeblaas en die aanvallers het R8 000 se muntstukke gebuit. Die kontant was bestem vir ʼn onderneming in Tonga.

Die verdagtes het in die rigting van Tonga gevlug.

ʼn Span van die Valke se eenheid in Nelspruit, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, provinsiale speurders, Malelane-speurders, Malelane-misdaadintelligensie, Schoemansdal-speurders, die nasionale ingrypingseenheid, Nelspruit LCRC, Nelspruit-bomopruimingseenheid en privaat veiligheidsmaatskappye was op die spoor van die verdagtes.

“Die twee voertuie, wat tydens die transitorooftog gebruik is, is by ʼn huis in Schoemansdal gevind. Vier persone is in hegtenis geneem. Verdere leidrade word gevolg en nog suksesse word verwag.”

Sekgotodi sê die Valke bevestig hul toewyding om alle inligting op te volg wat die publiek deurgee.

Genl.maj. Nico Gerber, provinsiale hoof van die Valke, het sy dank uitgespreek vir die span wat die transitorooftog ondersoek en poog om dit te voorkom. Hy het ʼn waarskuwing uitgereik: “Die Valke is nie alleen in dié stryd nie. Ons het die afgelope paar weke ʼn ernstige impak gemaak. Ons sal nie rus nie. Dit is ʼn groepspoging en die strategie het uitstekende resultate in ʼn kort rukkie opgelewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.