Vier oornag in Gqeberha doodgeskiet

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Vier mense is Sondagaand tydens ʼn massaskietvoorval in Kwadwesi in Gqeberha vermoor. ʼn Vyfde persoon is gewond nadat hy in die arm en bors geskiet is.

Die polisie het nou ʼn dringende beroep op die plaaslike gemeenskap gedoen om die verdagtes te help vaskeer.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die beseerde man (in sy 40’s) deur die aanvallers oorval nadat sy vriend hom ongeveer 21:15 by sy huis in Sikhundlastraat afgelaai het. Die aanvallers het die man glo in sy erf voorgekeer en hom in sy huis geskiet.

Hy is in die arm en bors gewond en na ʼn hospitaal geneem.

Die liggame van die vier oorledenes is kort daarna in ʼn sinkhuis in die erf van ʼn ander huis in dieselfde straat aangetref. Die slagoffers, drie mans en een vrou, was tussen 19 en 24 jaar oud.

Hul name is nog nie deur die polisie bekendgemaak nie.

Die Valke in Gqeberha ondersoek nou vier sake van moord en ʼn saak van poging tot moord.

“Die verdagtes is in albei gevalle dieselfde. Die motief [vir die moorde] moet nog vasgestel word,” sê Naidu.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, sê dade soos dié sal nie geduld word nie. “Die hulp van die gemeenskap is uiters belangrik om die polisie te help om uit te pluis wat tot hierdie tragedie gelei het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.