Vier vas ná polisie toeslaan op vermeende dwelmsmouse

Van die dwelms waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Twee verdagtes wat glo ʼn onwettige dwelmlaboratorium in Sasolburg in die Vrystaat bedryf het, verskyn na verwagting Maandag in die landdroshof op die dorp.

Die polisie se honde-eenheid in Sasolburg het ʼn wenk oor die laboratorium in die Vaalpark-gebied gekry, het ao. Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, gesê. Op pad na die huis het die polisie ʼn voertuig teëgekom wat voldoen het aan die beskrywing van die verdagtes se voertuig. Die bestuurder het egter weggejaag.

Steyn het gesê die motoris is in ʼn jaagtog agternagesit en voorgekeer. ʼn Sak met die dwelm Cat is in die voertuig gevind en die bestuurder is in hegtenis geneem.

“Die span is daarna na die huis waar chemikalieë wat gebruik word in die vervaardiging van dwelms in een van die vertrekke gevind is. Dit sluit in batterysuur, suur, asetoon, seepsoda en ander onbekende chemikalieë. Daar is op die middels beslag gelê en nog ʼn verdagte is in hegtenis geneem.”

In ʼn onverwante voorval verskyn twee verdagtes na verwagting Maandag in die Oos-Londen-landdroshof op ʼn dwelmverwante aanklag.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke in die Oos-Kaap, het gesê die twee, onderskeidelik 35 en 37 jaar oud, is Vrydagaand in ʼn gesamentlike operasie in hegtenis geneem.

Die polisie het inligting opgevolg oor dwelms wat glo in die Oos-Londense middestad verkoop sou word. Die polisie het die twee genader en ʼn deursoeking van hulle voertuig het ʼn duisend Mandrax-tablette en meer as 200 g tik opgelewer.

Die dwelms het ʼn geraamde straatwaarde van sowat R86 000. Die polisie het ook op die voertuig beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Al hierdie dwelms wat die polisie op toeslaan? As dit nou on ‘n vangwa iewers karwy word deur die polisie, waar eindig dit op? En wat gebeur dan met die dwelms vanwaar dit opeindig? Is dit maar soos die gewere wat ingehandig is? Die volgende dag skiet ‘n bende lid jou met jou eie geweer. Gaan verkoop die polisie maar net weer die dwelms? Seker die selfde gebeur met die perlemoen? Jy dink dit is uit die hande van die slegte ouens, maar in Suid Afrika wie is die slegte ouens!

Niklaas ·

Dankie tog dit was net dwelms wat gevind is en, behoed ons, nie voorrade sigarette of drank nie. Dán was dit ernstig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.