Visum-agterstand styg met 20 000 binne 6 maande

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie het onthul dat die departement van binnelandse sake se agterstand met visum-aansoeke het van 74 000 in Augustus 2023 tot 92 000 op 16 Februarie 2024 gestyg. Dit is ʼn toename van net minder as 20 000 in ongeveer ses maande.

“Hierdie toename is teenstrydig met die inligting wat die minister in Maart 2023 aan die parlementêre komitee verskaf het,” sê Angel Khanyile, die DA se skaduminister oor binnelandse sake.

Die komitee het gehoor dat die departement beamptes met die nodige kwalifikasies sal aanstel om die agterstand in te haal.

“Tog bly die agterstand net vererger. Ondanks bewerings dat die departement besoekervisums sal prioritiseer, is daar ʼn agterstand van 41 083 van besoekervisums vir persone wat met Suid-Afrikaners getroud is. Dit is die hoogste kategorie vir alle visumkategorieë.” Die tweede hoogste kategorie is familielede se visums op 18 661.

“Die minister voer aan dit is weens uitdagings om die egtheid van die verhoudings te bevestig.”

Khanyile sê die minister bly dié verskoning gebruik, maar kan nie inligting verskaf oor wat gedoen word om die kwessie aan te roer nie.

“Hoekom word niks gedoen om die situasie op te los nie? Waarom is dit in vandag se tyd so moeilik vir die departement om ʼn huwelik te bevestig? Dit lyk of die departement vasbeslote is om in die Donker Middeleeue te bly. Die departement moet ophou om verskonings te maak – soos ʼn plaat wat vasgehaak het – en hul huis in orde kry.”

Volgens Khanyile is die wanfunksionering van die departement van binnelandse sake op ʼn krisispunt. “Die agterstand lei nie net tot ʼn verhoging in litigasie vir die belastingbetaler nie, maar skep ook die geleentheid vir korrupsie en die uitreiking van vervalste dokumente. Die minister het vyf jaar gehad om dié probleme te takel, maar dinge raak net erger. Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om vir ʼn DA-regering te stem wat die departement uit die Donker Middeleeue sal bring, regverdige en doeltreffende prosesse sal instel en korrupsie en agterstande by die departement sal takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Natuurlik is daar mense wat dokumente onwettig verskaf! Ons sal nooit weet hoeveel onwettiges gaan stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.