Voertye by akwarium weer op dreef

Die voertye by die Twee Oseane-akwarium is weer oop vir die publiek. (Foto: Verskaf)

Die Twee Oseane-akwarium by die V&A-waterfront in Kaapstad se voertye is weer vir die publiek oopgestel.

Dié gewilde aktiwiteite moes sowat twee jaar gelede gestaak word weens die Covid-19-pandemie.

Liefhebbers van haaie, pikkewyne en ander vissoorte kan nou weer by die akwarium ʼn draai maak om dié waterdiere se voertye te besigtig.

Toegang tot die voertye by die drie groot uitstallings – die I&J Ocean-uitstalling, die Save our Seas Foundation se haai-uitstalling en die seewierwoud-uitstalling – asook die pikkewynvoedings is weer beskikbaar vir die publiek.

Die I&J Ocean-uitstalling bevat 1,6 miljoen liter water en huisves honderde verskillende vissoorte soos pylsterte, biskoppe, knorders en talle ander skole visse. Die duikvoedings vind hier op Maandae, Woensdae en Vrydae om 12:00 plaas.

Die voertye by die Twee Oseane-akwarium is weer oop vir die publiek. (Foto: Verskaf)

Die Save our Seas Foundation se haai-uitstalling is die grootste een by die akwarium en bevat twee miljoen liter water. Die haaie word op Saterdae om 12:00 gevoer. Dié voertyd is altyd iets om te aanskou en is ʼn gulde geleentheid om meer te leer oor dié ongelooflike diere.

Die Kelp Forest-uitstalling is een van ʼn handjievol seewierwoude ter wêreld wat besigtig kan word. Die uitstalling bevat 800 000 liter water en reuseseewierplante, sowel as ʼn magdom vissoorte – baie van hulle wat endemies aan Suid-Afrika. Dié uitstalling se voertye vind op Dinsdae, Donderdae en Sondae om 12:00 plaas.

Die akwarium huisves ook twee pikkewynkolonies naamlik die Afrika- en klipspringerpikkewyne. Dié charismatiese voëls is beslis ʼn gunsteling by die akwarium en word daagliks om 11:30 en 14:30 gevoer.

Vir meer inligting besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anonymouse ·

Ek is defnitief besig om oud te word… Ek bly lees voertuie en was so deurmekaar soos trifle.

Cherokee ·

Is nie snaaks nie. Hoe dikwels sien jy die woord voertye teenoor voertuie, en die brein lees dit as die meer algemene voertuie, net soos jy somtyds ‘n spelfout reg lees, selfs sonder om dit agter te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.