Volg SA’ners regstreeks wat aan uitmergelende wedloop deelneem

Ake Fagereng van Engeland saam met Luc Steens (middel) en Armand du Plessis (regs) van Suid-Afrika net voor hulle Sondagoggend om 10:00 met die Tor des Geants in Courmayeur, Italië begin het (Foto: Armand du Plessis, Facebook)

Ake Fagereng van Engeland saam met Luc Steens (middel) en Armand du Plessis (regs) van Suid-Afrika net voor hulle Sondagoggend om 10:00 met die Tor des Geants in Courmayeur, Italië begin het (Foto: Armand du Plessis, Facebook)

Terwyl die Suid-Afrikaanse atlete by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, is daar twee Suid-Afrikaners wat in die Italiaanse Alpe aan een van die uitmergelendste veldwedlope deelneem.

Armand du Plessis, ʼn Pretorianer wat tans in Kaapstad woon, en die Belg, Luc Steens wat ook onder die Suid-Afrikaanse vlag hardloop, het Sondagoggend om 10:00 met die Tor des Geants in die Aosta-vallei in Italië begin. Hulle hardloop nou reeds meer as 45 uur.

Die Tor des Geants (“reis van die reuse”) is ʼn 330 km roete met ʼn algehele hoogte bo seespieël van 24 000 m. Die afsnytyd is 150 uur (net meer as ses dae) en die deelnemers hardloop aaneen.

Tydens die veldloop sal deelnemers deur meer as 34 munisipaliteite hardloop, 25 bergreekse, 30 ysmere en twee natuurlike parke oorsteek.

Die wedloop begin en eindig in Courmayeur.

Daar is altesaam 21 verversingspunte waar die hardlopers kan eet en vinnig kan slaap en ook mediese behandeling kan ontvang indien nodig. Daar is ses basispunte wat groter is as die verversingspunte waar die deelnemers ʼn rukkie langer kan vertoef.

Weens die moeilikheidsgraad van die wedloop, maak meeste atlete nie klaar nie. Van die 765 atlete wat vir vanjaar se Tor des Geants gekwalifiseer het, het 150 atlete reeds onttrek, waaronder die Kapenaar, Linda Doke.

Die rekordtyd vir die roete is in 2013 deur die Spanjaard, Iker Karrera, opgestel toe hy die roete binne 70 uur, 4 minute en 15 sekondes voltooi het.

Die voorloper in vanjaar se Tor des Geants is die Italianer, Bosatelli Oliviero. Hy het Dinsdagoggend reeds 222 km afgelê.

Du Plessis is tans in die 93ste posisie en het 151 km agter die blad. Maroela Media het vroeër berig Du Plessis het die land se naam hoog gehou toe hy die derde plek op die podium gehaal het tydens ʼn 160 km-wedloop onder uiterste omstandighede in Chileense Patagonië.

Steens (wat homself intussen weer in België gevestig het) is in die 428ste posisie en hy het reeds 106 km voltooi.

Volg die atlete regstreeks hier (Du Plessis se nommer is 1196 en Steens is 1381).

Volg die Tor des Geants op Facebook om foto’s te sien van die ongelooflike natuurskoon waardeur die deelnemers hul weg moet vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. ·

Defnitief ‘n “reis van die reuse”! Haal my hoed af vir die ouens!Ek hoop nou net nie my dogter gaan die lees en ook wil staan en aanpak nie :(

Marianne ·

Goeie genade!!!!
Groot is jul harte en jul moed.
Mag die Here met julle wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.