Voorwaardes vir tydelike onderwysassistent-program

(Argieffoto: ANA)

Terwyl jeugdiges reeds kan aansoek doen vir derduisende tydelike poste as deel van fase 2 van die departement van basiese onderwys se indiensnemingsinisiatief, heers daar groot kommer omdat min van die probleme wat met fase 1 van die regering se sogenaamde BEEI-program opgeduik het, aangespreek is.

Die departement het vandeesweek aangekondig dat fase 2 van die indiensnemingsinisiatief (Basic Education Employment Initiative of BEEI) nou oop is vir aansoeke. Dit vorm deel van president Cyril Ramaphosa se presidensiële indiensnemings-stimulusprogram.

“Sowat 300 000 tydelike onderwysassistente is einde verlede jaar as deel van fase 1 aangestel,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). “Die hele program was ondeurdag en het groot druk op skole geplaas. Daar was probleme met betalings en kontrakte en ʼn gedeelte van die program was gedurende Desember en Januarie tydens die skoolvakansie.”

Deacon sê hoewel rolspelers genader is om kommentaar te lewer voor die implementering van fase 2 is geen van die kwessies behoorlik aangespreek nie.

“In talle provinsies is skoolhoofde gedwing om ongemagtigde en onwettige betalings aan die jeugdiges te maak omdat die provinsiale onderwysdepartemente nie hul kant gebring het nie. Boonop is van skole verwag om die tydelike werkers op te lei en besig te hou en skole is ook gedwing om meer jeugdiges te akkommodeer as wat toegelaat word ingevolge Covid-protokol.”

Deacon sê fase 1 van die inisiatief was chaoties en het getuig van swak beplanning en swak bestuur. “Dit het die beeld van onderwys net verdere skade berokken.”

Fedsas ondersteun die projek as ʼn sosiale program in skoolgemeenskappe, eerder as ʼn onderwysprojek. “Ons het geweldig baie empatie met werklose jeugdiges, veral omdat talle van hulle redelik onlangs nog deel van die skoolstelsel was. Hulle sal egter baat vind by ʼn meer gestruktureerde program waarin hulle werklike werkservaring kan opdoen, eerder as wat nou lyk na net nog ʼn maatskaplike toelaag.”

In ʼn brief aan die departement van basiese onderwys maak Fedsas ʼn gedetailleerde en deurdagte voorstel vir fase 2 en spel ook die rol van skoolbeheerliggame in die inisiatief uit.

“Die huidige implementeringsraamwerk bevat verskeie wetlike teenstrydighede en foute, wat talle probleme in terme van arbeidswetgewing kan meebring.”

Fedsas bied ook aan om ondersteuning te bied met die opleiding van skoolbeheerliggame en ander betrokkenes.

“Die tydsberekening só kort voor die plaaslike regeringsverkiesing is reeds verdag. Fedsas sal graag wil glo dat die inisiatief werklik op werkskepping en armoedeverligting gefokus is, eerder as politieke gewin,” sê Deacon.

“Skoolbeheerliggame staan in ʼn vertrouensverhouding teenoor skole en hierdie projek kan dus slegs binne hierdie konteks ondersteun word. Dit is belangrik om te onthou dat die waarde vir skole swaarder moet weeg as enige ander faktor – selfs al is dit ʼn presidensiële inisiatief.”

Hy meen skole sal baie meer by die projek baat as die jongmense tydens ʼn skoolkwartaal by die skool is en nie gedurende die lang Desember-skoolvakansie nie. “Ons moet ook weet wie die werkgewer gaan wees – dit bepaal die stel wette wat op die verhouding van toepassing sal wees.”

Fedsas sal fase 2 van die indiensnemingsinisiatief slegs ondersteun indien alle kwessies behoorlik aangeroer word.

  • Fedsas is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van Fedsas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Sou dit nie meer sin gemaak het om opgeleide onderwysers aan te stel waar daar ‘n behoefte is nie. Wat gaan die lot se doel wees? Rond sit en geld verdien vir niks doen? Ek verstaan nie aldag die ANC se redenasievermoë nie.

Cabytheron ·

Ek kan die wag vir die dag wanneer iemand die ANC uit die kussings lug nie!

Swerwer ·

Die meeste kan nie spel nie en taalgebruik is nie korrek nie, hoe op deesaarde moet hul
onderwys gee. Belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.