Vragte vol gesteelde TV’s, drank gekry

‘n Vragmotor vol TV’s is in ‘n werkswinkel in Bloemfontein gekry. (Foto: Saps)

Lede van die polisie in Mangaung in die Vrystaat het Vrydag op vragte vol gesteelde TV’s en drank by ʼn werkswinkel in Bloemfontein afgekom.

Die polisie het ʼn reeks tweedehandse winkels en skrootmetaalwerwe besoek om seker te maak dié ondernemings voldoen aan die betrokke wetgewing.

“Terwyl hulle besig was in Bloemfontein, kom hulle toe af op ʼn werkswinkel met vragmotors wat in die werkswinkel geparkeer staan. Toe hulle verder ondersoek instel, sien hulle die een trok is propvol 139 eenhede van 60 duim-plasmaskerm-TV’s en 32 eenhede 55 duim-plasmaskerm-TV’s ter waarde van ongeveer R1,2 miljoen,” het sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder in die Vrystaat gesê.

Die tweede trok was propvol kratte met verskillende soorte whiskies en vodkas ter waarde van R250 000. Agter die trokke het die polisie boonop afgekom op twee groot 20 liter-houers vol diesel ter waarde van R30 000.

“Twee buitelanders, onderskeidelik 42 en 38 jaar oud, kon nie die polisie van behoorlike dokumentasie verskaf wat die besit van hierdie items regverdig nie en hulle is albei in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere, asook die oortreding van die Immigrasiewet.”

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.