Vrou agter tralies vir visumbedrog

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

ʼn 48-jarige vrou en haar medepligtiges is Donderdag in hegtenis geneem nadat ʼn hoop vals tydelike visums vir asielsoekers en fotokopieë van soortgelyke bewyse van adresbriewe en afskrifte van gereproduseerde beëdigde verklarings by haar internet-kafee in Bloemfontein gevind is.

Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, was lede van die Parkweg-polisie besig met Operasie Yehlisa en Operasie Shanela in die Generaal de Wet-woonbuurt toe hulle ʼn wit Honda-sedan gewaar het.

“Die polisie het die voertuig omstreeks 13:00 as deel van ondersoek-operasie voorgekeer, waarna hulle die bestuurder se verpligte dokumentasie gevra het.

“Die 32-jarige buitelander het ʼn aansoek om sy visum aan die lede gewys waarna die polisie opgemerk het dat die datum op die polisiestempel elders geposisioneer is as op die oorspronklike dokumentasie,” sê Covane.

Die verdagte het daarna vrywillig ingestem om die polisie na die internet-kafee – waar hy die beëdigde verklaring bekom het – te vergesel.

“By hul aankoms by die Cyberspace A & A internet-kafee in Charlesstraat is ʼn 48-jarige vrou in bestuur van die kafee aangetref. Die polisielede het hulself aan haar voorgestel en toestemming gevra om die winkel te deursoek.

“’n Hoop vals tydelike visums vir asielsoekers en fotokopieë van soortgelyke bewyse van adresbriewe en afskrifte van gereproduseerde beëdigde verklarings – soortgelyk aan dié waarop beslag gelê is – is tydens die ondersoek in die internet-kafee gevind.

“Die 48-jarige buitelander is daarna vir bedrog in hegtenis geneem asook vir die bestuur van ʼn geheime laboratorium wat bedrieglike dokumente vervaardig en verkoop,” sê Covane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.