Vrou gevonnis oor polisieman se moord

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Zanele Mkhonto (29) is in die Mbombela (Nelspruit)-hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis in verband met die moord op ʼn polisiebeampte.

“Inligting is ontvang oor die moord op wyle sers. Mandlenkosi Happy Thwala. Hy is op 2 Augustus 2022 in Gedlembane, Pienaar, vermoor. Hy was 45 jaar oud,” sê kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Die saak is aan die Valke se eenheid in Nelspruit, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, oorgegee vir verdere ondersoek.

Tydens die ondersoek is Mkhonto, wat in ʼn verhouding was met sers. Thwala, met die moord verbind. Sy is op 10 Augustus 2022 in hegtenis geneem. Sy het in die Kanyamazane-landdroshof verskyn. Haar aansoek om borgtog is afgekeur en sy was sedertdien in aanhouding.

“Die saak is tot 2 November 2023 uitgestel waar sy skuld beken het. Die voorvonnisverhoor het op 27 November 2023 plaasgevind. Sy het in aanhouding gebly.”

Mkhonto is op 4 April twintig jaar direkte tronkstraf opgelê.

Genl.maj. Nicolas Gerber, provinsiale hoof van die Valke, het die ondersoekbeampte en vervolgingsowerhede geloof vir hul samewerking tydens die ondersoek. Hy het die publiek gemaan om steeds inligting aan die polisie te verskaf oor enige kriminele bedrywighede. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.