ʼn 46-jarige vrou het Dinsdag in ʼn landdroshof in Mpumalanga verskyn op aanklag dat sy die meesterbrein agter haar man se moord is.
Vusi Mona (48), ʼn onderwyser van Zwelisha Primary School, is deur drie mans uit sy huis in Kanyamazane ontvoer wat by die huis ingestorm het, dit geplunder het en kontant en vuurwapens geëis het, het brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit, hom in sy Ford Ranger-voertuig gedwing en is met hom bank toe om nog geld te gaan trek. Mona se liggaam is op Valentynsdag vanjaar in sy motor gevind. Hy is doodgeskiet en sy hande en voete was met kabelbindertjies vasgebind.”
Mona se vrou, Simangele Shongwe, is ná ʼn ondersoek op 31 Maart in hegtenis geneem. “Sy is vermoedelik die meesterbrein agter haar man se moord. Sy staan tereg op aanklag van moord, sameswering om moord te pleeg, ontvoering en meineed,” het Hlathi bygevoeg.
Shongwe bly in aanhouding tot 18 April 2017 wanneer sy weer in die Kabokweni-landdroshof verskyn om formeel aansoek te doen om borgtog.