Vrou na hospitaal gehaas ná bye-aanval

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: verskaf)

’n Vrystaatse vrou is Dinsdagmiddag in ’n ernstige toestand na die hospitaal gehaas nadat sy deur bye gesteek is. Sy was besig om gras langs die R549 by Deneysville te sny toe die voorval plaasgevind het.

Weens die lang afstand na die hospitaal het lede van die publiek gehelp om die vrou solank in die rigting van die hospitaal te vervoer aangesien haar toestand vinnig verswak het. Hulle het met nooddienste ooreengekom om die ambulans op pad na die hospitaal te ontmoet.

“Mediese advies is telefonies deur middel van Netcare 911 se noodbedryfsentrum gebied terwyl lede van die publiek die vrou na die ontmoetingspunt gehaas het,” het Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, gesê.

“Met paramedici se aankoms by dié punt langs die R549 het hulle die vrou bewusteloos in die passasiersitplek aangetref. Haar liggaam was geswel en sy het skaars asemgehaal.”

Volgens Herbst is die vrou onmiddellik van gevorderde lewensondersteuning voorsien weens ernstige anafilaksie.

“Nadat behandeling toegedien is, is die vrou met ʼn ambulans na ʼn plaaslike hospitaal geneem aangesien haar toestand steeds ernstig was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Byekonfyt ·

Ek hoop die vrou herstel 100% . Altyd mooi om te hoor van barmhartige Samiritane wat hul medemens te hulp snel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.