Vyf kinders sterf toe hutte brand

(Foto: Pieter Cloete)

Vyf kinders het in Itireleng, naby Laudium in Pretoria, gesterf nadat ʼn brand Sondag in die vroeë oggendure in die informele nedersetting uitgebreek het.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê naastenby ses hutte is in die brand verwoes.

“Die oorskot van vyf kinders wat onherkenbaar verkool het, is in die puin van die hutte aangetref nadat brandbestryders die vlamme geblus het,” sê Mabaso.

Daar is later vasgestel die liggame is dié van drie seuntjies – onderskeidelik twee, vier en ses jaar oud – en dié van twee dogtertjies – onderskeidelik een en sewe jaar oud. Die kinders se ma’s is susters.

“Die bewering is dat die susters die kinders oornag alleen in een van die hutte gelos en by ʼn nabygeleë taverne gaan drink het,” sê Mabaso. Die susters is in hegtenis geneem en na ʼn plaaslike polisiestasie vir ondervraging geneem.

Die oorsaak van die brand word nog ondersoek.

“Ons doen ʼn beroep op ouers en versorgers om te verseker dat kinders altyd in die sorg van ʼn volwassene en in ʼn veilige ruimte gelaat word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.