Vier mans en ʼn vrou is Dinsdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem in verband met die moord op Riaan van den Berg, ʼn suikerrietboer van Malalane in Mpumalanga wat verlede week Vrydag dood in sy plaashuis aangetref is.
Brig. Selvy Mohlala, ʼn polisiewoordvoerder, sê die polisie het omstreeks 02:00 op die verdagtes toegeslaan terwyl hulle in hul onderskeie huise in Matsulu naby Nelspruit geslaap het.
Die vier mans, tussen 25 en 34 jaar oud, en ʼn 24-jarige vrou sal na verwagting Woensdag in Malalane-rondgaande hof verskyn op aanklagte van moord en huisbraak.
Maroela Media het Vrydag berig Van Den Berg, in sy vroeë 40’s, se huishulp het op sy liggaam afgekom waarna sy sy beste vriend ontbied het. “Die saak is omstreeks 08:30 by die polisie aangemeld. Ons vermoed hy is Donderdagaand in sy huis oorval en vermoor,” het Mohlala in daardie stadium gesê.
Van Den Berg se liggaam is glo op sy rusbank aangetref. Hy was met toue vasgebind, en daar was ook ʼn tou om sy nek. Die polisie vermoed dat hy verwurg is.
Van Den Berg se bakkie, ʼn platskermtelevisie, selfoon, hoëtroustel en tuimeldroeër is gesteel. Die polisie het glo van Van Den Berg se gesteelde goedere in die verdagtes se besit gevind.
Lees ook:
Boer van Malalane vermoor
Goeie werk, nou vir ‘n suksesvolle vervolging en skuldigbevinding en gepaardgaande straf, wat die doodstraf moes wees.