Waarskuwing oor kwaai buie in KZN

weer weerdiens vrystaat reën onweer wolke

Onweerswolke oor die Vrystaat. Storm Report SA het dié foto op Facebook gedeel.

Inwoners van KwaZulu-Natal moet hulle staal vir swaar reën.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ʼn oranje vlak 9-waarskuwing uitgereik vir wydverspreide buie en donderbuie wat Donderdag oor die provinsie verwag kan word. Langdurige reënval word verwag.

Die weerdiens sê reën van meer as 50 mm word verwag en dit kan lei tot die oorstroming van paaie en nedersettings, die ontworteling van inwoners en lewensgevaar weens diep water wat vinnig vloei.

Die swaar en wydverspreide reën kan ook lei tot groot en langdurige ontwrigting van noodsaaklike dienste soos die lewering van krag en water, asook kommunikasiestelsels.

Volgens die weerdiens word wydverspreide buie en donderbuie ook in die Oos-Kaap verwag. Dit kan lei tot reën van tussen 30 mm en 50 mm oor sommige gedeeltes van die provinsie. Die weerdiens waarsku teen die oorstroming van kwesbare nedersettings, paaie, laagliggende gebiede en brûe.

Die reën kan ook hier lei tot onderbrekings aan die kragnetwerk.

Die weerdiens se oranje vlak 5-waarskuwing vir die Oos-Kaap duur tot Vrydag.

Lehlohonolo Thobela, ʼn weervoorspeller by die weerdiens, sê die meeste swaar en ontwrigtende reën word in KwaZulu-Natal verwag, hoewel reën ook in sommige ander gebiede van die land verwag word. Dit sluit in Mpumalanga, die sentrale en suidelike gedeeltes van Limpopo en Gauteng wat vandag reën kan verwag.

Vrydag kan swaar reën in hoofsaaklik Mpumalanga, die noordelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en die oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap verwag word. Dit sal teen die naweek begin opklaar.

Die verre oostelike gedeeltes van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die oostelike gedeeltes van die Vrystaat kan die naweek nog reën te wagte wees. Daar is Saterdag en Sondag ʼn kans van 60% tot 80% vir buie en donderbuie in hierdie gebiede, sê Thobela.

Die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, het reeds die provinsie se rampbestuursentrum op gereedheidsgrondslag geplaas.

Die DA se KwaZulu-Natalse woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, Martin Meyer, sê egter die party is bekommerd oor die groot getal vakante poste by die sentrum wat beteken die instelling is hopeloos onvoorbereid op uiterste weerverskynsels.

Meyer sê 17 uit die 35 poste by die sentrum is vakant en 13 van dié poste word as kritiek geklassifiseer.

“Gegewe die situasie, doen die DA ʼn beroep op LUR Zikalala om dadelik dié belangrike diens reg te ruk. Dit moet insluit die vul van belangrike poste en verhoogde finansiering.”

Die provinsie se rampbestuursentrum het R30,5 miljoen vir die 2022-’23-boekjaar ontvang, minder as wat ʼn jaar tevore daaraan toegeken is.

Die DA het intussen ʼn beroep op alle munisipaliteite in die geraakte gebiede gedoen om te verseker dat inwoners weet van die weerwaarskuwing en dat inwoners uit die gebiede geneem word, sou dit nodig raak.

“Ons doen ook ʼn beroep op die provinsie se inwoners om waaksaam tydens die storms te bly. Dit sluit in om nie onnodig rond te ry nie, nie oorstroomde brûe en paaie oor te steek nie, amptelike nuusberigte en waarskuwings dop te hou en versigtig te wees oor die verspreiding van fopnuus,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.