Wag ‘hartseer’ oor seksklagte teen hom

Argieffoto

Johannes Molefe, die skoolveiligheidsbeampte van die AB Xuma Primary School in Soweto wat van die verkragting en molestering van talle leerders beskuldig word, sê hy was “geskok en hartseer” om van die beskuldigings te hoor.

Molefe was Maandag self in die getuiebank waar sy verhoor in die hooggeregshof in Palm Ridge voortgegaan het.

Staatsaanklaer Jacki Steyn het dit aan Molefe gestel dat die kinders wat teen hom getuig het, geen rede het om te lieg oor wat hy na bewering aan hulle gedoen het nie. Molefe het hierop geantwoord hy het nooit op onbehoorlike wyse aan enige kinders gevat nie. Hy het gesê hy voel seergemaak dat die kinders hom van sulke dade beskuldig.

Steyn het daarna gesê Molefe is in die hof omdat daar bewyse is dat hy die kinders onbehoorlik aangeraak het.

Molefe staan tereg op drie aanklagte van verkragting en 11 van seksuele aanranding wat hy na bewering in 2017 gepleeg het.

Molefe het vroeër bewerings dat hy leerders gestuur het om vir hom te gaan kos kry, en hulle sodoende na die waghuis gelok het, ontken. Hy sê daar is veiligheidskameras buite die waghuis opgerig, waar die beweerde oortredings glo gebeur het, maar hy is nie seker of dié kamera in werkende orde is nie.

Steyn het gedurende Molefe se kruisondervraging gesê hy is baie geliefd onder die onderwysers, ouers en leerders, so daar is geen rede hoekom hulle ʼn komplot teen hom sal voer nie.

“Ek weet nie. Ek werk daar vir my vyf kinders,” het Molefe hierop geantwoord.

Molefe het verlede week aan die hof gesê die bewerings teen hom is deel van ʼn komplot om van hom ontslae te raak sodat swakker veiligheidsmaatreëls by die skool die geleentheid sal skep om die skoolhoof, Maria Mthimkhulu, leed aan te doen omdat sy na bewering skoolfondse misbruik.

Steyn het dit aan Molefe gestel indien daar werklik ʼn komplot teen hom was, sou al 87 kinders (wat aanvanklik bewerings teen Molefe gemaak het) getuig het. “Ek weet glad nie,” het hy hierop geantwoord.

Mthimkhulu het tydens haar getuienis voor die hof gesê sy vrees vir haar lewe.

Die verhoor duur vandag voort.

Lees alle vorige berigte oor die AB Xuma Primary School op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santjie ·

Nou hoekom vrees die skoolhoof vir haar lewe? of is dit ‘n geval van waar ‘n rokie trek, is daar gewoonlik ‘n vuurtjie? Dit maak nog steeds dan nie sin nie, of is ek bietjie stadig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.