Watertoevoer na Leeuwkop-tronk afgesny oor wanbetaling

Die Leeuwkop-gevangenis. (Argieffoto)

Johannesburg-munisipaliteit het die watertoevoer na verskeie ondernemings afgesny weens agterstallige betalings.

Kgamanyane Maphologela, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê een sake-eienaar is ook in hegtenis geneem nadat hy onwettig sy onderneming met water- en kragtoevoer verbind het. Die sakeman van Roodepoort, wat ʼn glasvervaardigingsonderneming het, is Vrydagmiddag deur beamptes van die Johannesburgse metropolisie by sy sakeperseel in Stormhill in hegtenis geneem. Dié onderneming skuld die munisipaliteit meer as R6,4 miljoen vir water en elektrisiteit.

Watertoevoer na Leeuwkop-gevangenis, wat die stad byna R10 miljoen vir water skuld, is ook afgesny.

Die kredietkontrole-operasie is gelei deur stadsbestuurder Floyd Brink, die inkomstedepartement, City Power, Joburg Water en die JMPD.

Maphologela sê die stadsraad het diegene, wat onwettig aan water- en elektrisiteitsdienste koppel, daarmee peuter of dit vandaliseer, al herhaaldelik gewaarsku dat hulle in hegtenis geneem kan word.

Tebogo Moraka, die stadsraad se groepshoof- finansiële beampte, het gesê skuld aan die stadsraad beloop tans byna R47 miljard. Dit is nie volhoubaar nie.

“Die kredietkontrole-operasie is net die begin. Ons sal aggressief persone najaag wat aan ons geld skuld en wat nie na vore kom om hul toenemende skuld te delg of om ʼn skulderkenningsbrief onderteken nie. Ons het geen keuse as om die dienste af te sny nie,” het Moraka bygevoeg.

Die stadsraad sal fokus op diegene met groot bedrae skuld en staatsdepartemente in ʼn poging om die agterstallige skuld in te samel.

Volgens Moraka was die stadsraad vandeesweek op die spoor van tien van die grootste ondernemings met agterstallige skuld. Dit sluit in ʼn hotel, groot residensiële landgoedere en ʼn paneelklop-onderneming wat die stadsraad saam meer as R104 miljoen skuld.

ʼn Ouetehuis, wat die stadsraad R26,6 miljoen skuld, het reëlings getref vir die betaling van die skuld en ʼn deposito van 30% (R7,7 miljoen) betaal. Die res van die skuld sal oor drie maande afbetaal word.

Eienaars van eiendom wat sukkel om hul rekeninge te betaal word aangeraai om met die stadsraad kontak te maak vir verdere bystand en om reëlings vir betaling te tref.

Die stad se kredietkontrole-departement kan per e-pos gekontak word by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Natuurlik. Mens wil mos nou nie n geweldadige opstand in n tronk hê nie, mos. So sny hul water af. Maak al die sin in die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.