Watwou! Wat maak so ʼn vlakvark in die Moot?

Moot, Pretoria, Tshwane-metro, dienslewering, gras

Dié vlakvark is afgeneem om die aandag van die Tshwane-metro te trek. (Foto: Verskaf)

Talle Pretorianers het Vrydag met ʼn vaart weggespring om ʼn verdwaalde vlakvark, wat in die Moot-woongebied opgemerk is, na veiligheid te probeer neem.

Hulle sou egter sukkel, want dié vlakvark het lankal reeds die tydelike met die ewige verwissel.

Die vlakvark, wat ewe parmantig tussen die lang grasse in 22ste Laan opgemerk is, heet Pumba. Maar Pumba is ʼn opgestopte vlakvark wat ingespan is om die Tshwane-metroraad se aandag te probeer trek.

Lindi van Eck, van die Hairzone-haarsalon, het Vrydag ʼn foto geneem van Pumba se gesig wat uit die ellelange gras oorkant die salon loer.

“Ons het mense al hier gekry wat die varkie wou kom vang, dan sê ons vir hulle bring net ʼn grassnyer saam ook,” het sy laggend vertel.

Volgens haar sukkel inwoners van die straat al sedert die begin van Januarie om die stadsraad te kry om die gras in die oop stuk veld te sny.

“Ek is 1,62 m lank en die gras is langer is ek.

“Die stadsraad kom sny nie die gras nie en inwoners is moeg daarvoor. Die plek lyk soos ʼn oerwoud. Dit lyk sommer of daar regtig ʼn vlakvark kan woon,” het Andries Opperman, AfriForum-buurtbeampte van die Groter Moot-tak, by navraag gesê.

Buiten dat die beboste stuk veld ʼn oogseer is, meen inwoners ook dit hou ʼn veiligheidsrisiko in.

Volgens Van Eck is daar is ongeveer 20 sluipslapers wat in die lang gras woon en vuur maak.

“Ander kruip daar weg en dan steel hulle die karre,” sê sy.

Die oop stuk veld wat ‘n oog seer geword het in die Moot, Pretoria. (Foto: Verskaf)

Die vermoede bestaan ook dat sommige van die sluipslapers verlede week van die elektriese drade hier geknip het.

“Dis baie min dat die gras hier by ons gesny word; ons soebat al lank.”

Volgens Van Eck het ʼn munisipale werker in Januarie ʼn klein gedeelte van die gras gesny, maar later weer verkas.

Opperman het intussen aangebied om die gras te gaan sny en Van Eck sê die nodige reëlings sal getref word om hiermee te help.

Volgens Opperman het die Groter Moot-tak reeds ses permanent aangestelde werkers, ʼn trekker en verskeie toerusting om met dienslewering te help. “Ons sal al hoe meer self moet verantwoordelikheid neem vir ons dienslewering want die stadsraad kan nie byhou nie,” sê hy.

Die Tshwane-metroraad is genader vir kommentaar, maar het nie dadelik gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anonymouse ·

Yep, so gaan dit in die Moot. Maar jy mag nie kla met jou regte naam nie, want dan word jy summier geblok. Sterkte aan Lindi.

Alex ·

Die hele Pretoria lyk soos n oerwoud. Montana, Doornpoort, Pretoria Noord. Ooral staan gras lank en word nie versorg ie. Op die N1 van Montana midde stad staan die bosse en gras so lank aan beide kante. Dis seker deel van die besparing wat Tshwane nou het om skuld te delg en instandhouding agter wee te laat.

Ida ·

Die foto het ek vanoggend as ‘n grap op sosiale media geplaas om net ‘n bietjie “verligting te bring in ons stesvolle wêreld. Sosiale media was op hol en toe haal ons Maroela. Kyk ek terug na April 2019 was ons die eerste “boomplanters” in die Moot. Ek dink na vandag moet almal begin saamstaan en iets doen om die lig te werp op ons omgewing wat agteruit gaan. Ons regering het mos nou R150 miljard uit ons reserwe fondse geneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.