Weerlig tref tiener ná sokkeroefening

Argieffoto

’n Oos-Kaapse tiener is dood toe hy Dinsdag tydens ’n storm deur die weerlig getref is.

Athinkosi Nofeliti (17) was op pad terug van ʼn sokkeroefening in Motherwell toe weerlig hom laatmiddag getref het.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, sê Athinkosi het omstreeks 17:30 in ʼn oopte huis toe gestap toe die weerlig hom naby Sisulustraat in NU29 getref het.

Hy is op die toneel dood.

Die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.

Mense word aangeraai om die buitelug te vermy wanneer die weer opsteek. Arrive Alive het die volgende wenke op sy webwerf verskaf sou jy jou in die buitelug tydens swaar weer bevind:

  • Bly weg van bome, water, hoogliggende gebiede of oop velde.
  • In die geval van ’n oop stuk veld, gaan lê of hurk op die grond totdat die storm verby is.
  • Skuil in ’n behoorlike gebou (eerder as ʼn boma, afdak, stoep of ander gedeeltelike beskerming).
  • Skuil in ’n voertuig met toe vensters indien daar geen behoorlike geboue naby is nie. (Hoewel ’n motor van metaal gemaak is, dien dit steeds as veilige skuiling aangesien die elektriese stroom nie deur die voertuig en sy insittendes vloei nie.)
  • Vermy metaalvoorwerpe soos lamppale.
  • Vermy die gebruik van ’n sambreel of gholfstokke.
  • Vermy aktiwiteite soos vlieër vlieg.
  • Laat jou troeteldiere in die huis toe. (Hondehokke en ander troeteldierskuilings is nie geskikte beskerming teen weerlig nie.)
  • Bly vir nog 30 minute binnenshuis nadat jy die laaste donderslag gehoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.