Welbekende SA kunstenaar met eredoktorsgraad vereer

(Foto: Dutch Footsteps)

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) sal Woensdag ʼn doktorsgraad in filosofie en kunsgeskiedenis (Honoris Causa) aan die welbekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Angus van Zyl Taylor – beter bekend as Angus Taylor – toeken.

Tommy Huma, woordvoerder van Unisa, sê Taylor sal dié eregraad tydens ʼn gradeplegtigheid by die Muckleneuk-kampus in Pretoria ontvang, “ter erkenning van sy onskatbare bydrae tot visuele kunste”.

“Sy bydrae tot die samelewing, kuns en beeldhoukuns is in ooreenstemming met Unisa se missie om die mensdom te dien. Sy bydrae as kunstenaar, beeldhouer en dosent vorm ook deel van Unisa se missie om die samelewing deur die Afrika-perspektief van respek, vrede en liefde te bevorder.”

Taylor is bekend vir sy kragtige, dikwels monumentale, beeldhouwerke wat van materiale uit sy onmiddellike omgewing naby Johannesburg gemaak is. Hy werk meestal op groot skaal en sy werke sluit in die standbeeld van hoofman Tshwane voor die Pretoriase stadsaal en die standbeeld van die Suid-Afrikaanse sanger Brenda Fassie in Newtown, Johannesburg.

Huma sê Taylor is ook die eredoktorsgraad waardig weens sy lewenslange pogings om die talente van jong en ontwikkelende kunstenaars te koester.

Taylor se werke kan by talle plekke wêreldwyd besigtig word – van openbare pleine en winkelsentrums tot private versamelings.

“Hy is selfs vir ʼn werk in die Lange Voorhout-uitstallingsmuseum aan Zee in Den Haag, Nederland – wat deur die destydse koningin Beatrix van Nederland geopen is – aangestel.”

(Foto: Dutch Footsteps)

Taylor is in 1994 met die PPC Young Sculptors Award, asook die Eduardo Villa-toekenning vir die beste beeldhoustudent bekroon.

In 2005 is die Alumni Laureaat-toekenning deur die Universiteit van Pretoria aan hom toegewys en in 2017 het Taylor die gesogte Helgaard Steyn-toekenning vir sy noemenswaardige bydrae tot Suid-Afrikaanse beeldhoukuns ontvang.

(Foto: Facebook/Tina Britz)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.