‘Welsynstaat g’n prestasie’

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

ʼn Land waar die helfte van die bevolking van staatshulp afhanklik is, is geen prestasie nie en om dit dan nog vir politieke gewin te probeer misbruik is laakbaar.

Pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings dat maatskaplike toelaes kan verdwyn as die ANC in die komende verkiesing by die stembus geklop word, wys dat dit vir die regering gerieflik is om mense afhanklik te hou eerder as om hulle te bemagtig, sê Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth.

“Die staat behoort nie te spog met die miljoene mense vir wie daar toelaes gegee word nie, maar moet eerder daarop fokus om werklik die ekonomie te laat groei en werk te skep sodat mense bemagtig kan word om die ekonomie te betree.”

Maatskaplike besteding verteenwoordig sowat 60% van die regering se gekonsolideerde begroting en van die geld kon eerder aangewend word om werk te skep en entrepreneurskap aan te moedig, meen Grobler. In plaas daarvan word al meer mense afhanklik van toelaes gemaak en kan dit eerder meer mense ontmoedig om werk te soek. Die werkloosheidsyfer het van 24% in 2018 tot meer as 30% toegeneem teen einde 2023 en is die R350-noodtoelae ook in die tyd ingestel en reeds by verskeie geleenthede verder verleng.

“Die regering hou arm mense arm deur staatstoelaes, aangesien mense nie bemagtig word om uit armoede gelig word nie maar eerder daarin vasgevang bly. Die staat moet inkomste genereer om werkskepping te bevorder en die armoedesiklus te breek.”

Volgens Grobler is die volgehoue toename in maatskaplike besteding nie net onvolhoubaar nie maar het dit ook tot gevolg dat baie mense se lewenstandaard al meer agteruit sal gaan aangesien toelaes nie teen dieselfde tempo as lewenskoste kan styg nie.

“Intussen is daar ook al hoe meer druk op ʼn kleinwordende belastingbetalersbasis wat nie die welsynstaat kan finansier nie. Net meer as 2,5 miljoen mense betaal 84% van alle persoonlike inkomstebelasting. Ekonome waarsku al lank dat die belastinglas op ‘n kleiner aantal individue al swaarder word, met die ekonomie wat nie groei nie en duisende belastingbetalers wat die land jaarliks verlaat.”

Maatskaplike toelaes word as ʼn vangnet vir werkloosheid en armoede gebruik en maak net meer en meer mense afhanklik van die staat sonder dat enige langtermynplan of -oplossing in plek is.

“Die fiskale volhoubaarheid van die regering se maatskaplike besteding word al hoe meer bevraagteken. Met jeugwerkloosheid wat op krisisvlakke staan voorspel dit niks goed nie, aangesien die hoeveelheid ontvangers van toelae moontlik net gaan toeneem en die belastingbetalersbasis nie. Die staat moet ophou om uit sy pad te gaan om mense afhanklik te hou en boonop nog die persepsie skep dat jou toelaag kan verdwyn indien jy vir ʼn ander party stem. Die staat moet eerder help om mense op te hef en te bemagtig ten einde die kringloop van armoede en werkloosheid te breek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Glo my daar is baie mense wat eerder sal wil werk as om ‘n toelaag te ontvang. Maar ons almal weet wat die beperkinge is. Elke jaar maak meer en meer besighede gedeeltes toe om tred te hou met kostes. Dit verlaag werksgeleenthede en opleiding. Minimum lone is sekerlik nodig in baie beroepe en bedrywe maar toelaes moet beperk word tot die wat dit werklik nog het. Ons verarm elke dag on kennis en geleenthede deur alles te wil oor reguleer en te beperk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.