Werker sterk aan ná hiëna haar gryp

Argieffoto (Foto: Carole Henderson / Pixabay)

ʼn Werker by die Berg-en-Dal-ruskamp in die Krugerwildtuin sterk aan ná ʼn hiëna haar aan die arm gebyt het.

SANParke het Vrydagaand bevestig sy is na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

“ʼn Spesialis het haar met frakture in haar hand gediagnoseer wat tot by die gewrig strek met ʼn skuinsbreuk naby aan haar elmboog.”

Sy het Donderdagaand ʼn operasie ondergaan om die frakture te herstel.

“Sy sê dit gaan goed met haar en is baie dankbaar vir die goeie mediese behandeling wat sy ontvang. Sy is in goeie luim.”

SANParke het elkeen bedank wat haar ʼn spoedige herstel toegewens het. “Ons waardeer elke boodskap en het haar laat weet van almal se ondersteuning.”

Isaac Phaahla, SANParke-woordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê die vrou werk by die restaurant by die ruskamp. Volgens hom was die dier kort ná middernag in die vrou se kamer. Sy woon in een van die woonkwartiere by die kamp.

Tinyiko Golele, streekveldbewaarder van Marula-Suid, en haar span het Woensdag die grensdraad ondersoek en bevind dat die hiëna ʼn gat in die heining oopgekou het en op só manier toegang bekom het tot die woonkwartiere.

Die heining is intussen herstel en personeel is gemaan om te alle tye waaksaam te wees.

ʼn Span werkers en ʼn veldwagter het die hiëna se spore gevolg en dit kort daarna opgespoor. Die dier is van kant gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.