Wildbewaarder herstel goed ná olifantaanval

 Foto ter illustrasie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die wildbewaarder wat in Desember ernstig beseer is toe ʼn olifant hom bestorm het, sterk goed aan. Hoewel hy steeds in die hospitaal is, is mediese personeel tevrede met sy vordering en hy sal binnekort met fisioterapie begin.

Joe Nkuna, ʼn ervare wildbewaarder van die Kruger-wildtuin, is op 20 Desember gehospitaliseer nadat ʼn olifant hom in die wildtuin bestorm het. Hy was besig om die gebied om die Pretoriuskop-ruskamp te patrolleer. Sy beserings was van so ʼn aard dat hy in die intensiewesorgeenheid van ʼn private hospitaal in Johannesburg opgeneem en aan ʼn ventilator gekoppel is.

Volgens die departement van bosbou, vissery en omgewingsake, is die 57-jarige wildbewaarder egter nou in ʼn goeie luim en optimisties oor sy vooruitsigte om ten volle te herstel. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, het hom Saterdag in die hospitaal besoek.

“Nkuna moes sedert die voorval verskeie operasies ondergaan, maar het vir my gesê hy kan nie wag om terug te keer na die bos en weer te begin patrolleer nie. Hy is baie passievol oor sy werk,” het Creecy gesê.

“Wat met Nkuna gebeur het, is baie tragies en ek is bly ek kon met hom gesels. Hy is ʼn merkwaardige en baie dapper man.”

Inligting oor die voorval dui daarop dat Nkuma saam met kollegas besig was om patrollie te doen toe ʼn teeltrop olifante die pad voor hulle oorgesteek het. Een van die olifante het glo skielik omgedraai en Nkuna aangeval.

Sy kollegas kon daarin slaag om hom te red deur ʼn waarskuwingskoot af te vuur wat die olifant verjaag het. Hulle het onmiddellik hulp ontbied. ʼn Dokter en ondersteuningspan het die veldwagter op die toneel gestabiliseer voordat hy per helikopter hospitaal toe geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.