“Ons raai toeriste aan om van ander hekke gebruik te maak weens die betogings in Malamulele wat ʼn invloed het by die Punda Maria-hek,” het William Mabasa, woordvoerder van SANParke, gesê. Volgens Mabasa moet besoekers eerder van die Pafuri- of Phalaborwa-hekke gebruik maak.
Die toerismebedryf aan die buitewyke van Malamulele loop erg deur sedert gewelddadige betogings in die gebied uitgebreek het. Betogers het verlede jaar winkels geplunder en aan die brand gesteek en sodoende miljoene rande se skade aangerig.
Inwoners het die pad van Malamulele en die pad na die Krugerwildtuin versper. Skole en besighede in die gebied is gesluit. Die inwoners dring aan op ʼn aparte munisipaliteit van Malamulele. Daar sal na verwagting Vrydag ʼn aankondiging hieroor gemaak word.