Winkelier al sy drank kwyt ná beweerde oortreding

‘n Polisielid stel ‘n inventaris op van al die items waarop beslag gelê is. (Foto: Facebook)

ʼn Drankwinkeleienaar van Dundee in KwaZulu-Natal is sy hele voorraad drank kwyt nadat hy glo alkohol tydens die staat van algehele inperking verkoop het.

Die polisie het ook beslag gelê op geslotebaan-televisietoestelle, die kasregister en ander elektroniese toerusting en het die Tayside-drankwinkel onbepaald in afsondering geplaas, het die provinsie se departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (EDTEA) gesê.

Nomusa Dube-Ncube, die LUR, en amptenare van KwaZulu-Natal se drankowerhede en die polisie het die drankwinkel Sondag besoek en sake daar fluks aan die gang aangetref.

Polisielede verwyder die items waarop beslag gelê is. (Foto: Facebook)

Die man is vroeër gewaarsku om sy onderneming te sluit en ʼn saak is by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens die departement het die eienaar en sy seuns ontken dat hulle enigiets verkeerd gedoen het. Hulle kon egter nie sê wanneer die laaste transaksie aangegaan is nie.

ʼn Advokaat verbonde aan die polisie het beveel dat die toerusting uit die winkel verwyder word en dat die winkel hangende verdere ondersoek gesluit moet word.

“Dit is skokkend dat sakelui die wetgewing en bepalings oor die staat van afsondering so ooglopend ignoreer. Ons ondersoek bewerings dat die winkel deurlopend drank verkoop het,” het Dube-Ncube gesê.

Die LUR het ook verskeie kleinhandelaars besoek. (Foto: Facebook)

Dube-Ncube het verskeie groot kleinhandelaars besoek om bewerings dat pryse daar onbehoorlik verhoog is, te ondersoek. By een van die winkels het sy onder meer beveel dat beskadigde blikkies bone en vis van winkelrakke verwyder word.

Die LUR het gesê die departement gaan verseker dat die wet ook tydens die afsonderingstydperk afgedwing word.

Intussen is ʼn 33-jarige verdagte in Langa in die Wes-Kaap in hegtenis geneem skaars ure nadat daar by ʼn drankwinkel in die buurt ingebreek en alkohol weggedra is.

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het intussen hulle teenwoordigheid in die gebied verhoog en soek na nog vermeende betrokkenes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boortor ·

Dit is een geval wat die nuus gehaal het. Daar is nog baaaie wat gaan kom. Binnekort!

Gawie ·

Kan ‘n mens so dom wees? Die liefde vir geld is die wortel van all euwel . . . .

Anke ·

Is ek al een wat dink die polisievrou lyk soos Hielda van 7de Laan?

Schalk N ·

Laat reg en geregtigheid seëvier.

Die GROOT vraag is?? Wat is die doel van die maskers indien dit NIE reg gebruik word nie met aanleiding tot die foto wat geplaas is in die rubriek.

twaalfboor ·

@ougrote
Het jy jou hande gesteriliseer voor jy jou foon opgetel het?

Hennie ·

Daai poliesmanne dra maskers om hulle smiles van blydskap weg te steek!

Jerry ·

Almal le n eier oor wat reg en verkeerd is. Almal het geld nodig om te oorleef of dink julle die regering gaan ons tot bystand snel…..
Al wat ek kan se is na die 21 dae lock down beter ek begin werk anders het ons nie kos op die tafel nie maak nie saak wie wat se nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.