Die Chiefs het nes in die 2012 Super15-eindstryd 37 punte teen die Sharks aangeteken, maar hierdie keer was die Sharks ongelukkig om nie te gewen het nie.
Die eindtelling was 37-29 en die halftydtelling 24-19. Die Sharks se harte is boonop in die doodsnikke van die wedstryd gebreek toe die Chiefs-losskakel Aaron Cruden ‘n strafskop deur die pale gejaag het om die besoekers ‘n bonuspunt te ontsê. Die Chiefs lyk met hierdie wen weer na die kampioene wat hulle tans is, ondanks ‘n paar nederlae en flou vertonings oor die laaste paar weke. Die tuisspan het die Sharks se verdediging oorhoops gehad in die eerste halfuur van die wedstryd met hul kenmerklike hardlooprugby. Asaeli Tikoirotuma, Bindee Aki en Tim Nanai Williams het met hul aanskoulike lopies die Sharks soos amateurs laat lyk en met Gareth Anscombe se korrel wat sekuur was, het die telling gou 24-0 geheet.
Diep in die moeilikheid het die Sharks ‘n indrukwekkende rolmaalbeweging aan die gang gesit en die lening van die Leeus, Derick Minnie, het oorgeduik om sy nuwe span op die telbord te plaas. Daarna het die debutant-agtsteman Lubabalo Mtembu en Minnie weer gaan druk en daar was ‘n verskil van slegs vyf punte toe rustyd aangebreek het. Die Chiefs het hernieude aanvalle ná halftyd geloods en die Sharks moes weer hul keer ken. Nanai-Williams het ‘n steekskoppie van Cruden opgepik om agter die pale te gaan kuier en die bonuspunt vir sy span te verseker. Die Durbaniete het egter nie gaan lê nie en die kaptein Keegan Daniel het danksy goeie ondersteunende spel gaan druk om die wenhoop lewendig te hou.‘n Sharks-flater by die afbreekpunt het Cruden die laaste punte van die wedstryd laat aanteken. Beide spanne het mindere teenstanders volgende week met die Sharks wat die wenlose Highlanders pak en die Chiefs wat die Rebels die stryd gaan aansê.
Hulle moet n bonuspunt he vir 4 driee