Die konstitusionele hof het Donderdag beslis dat skuldeisers bewys moet kan lewer dat ʼn persoon met agterstallige skuld wel ʼn kennisgewing van die eiser rakende die skuld ontvang het, voor daar teen hulle opgetree kan word.
Mashilo Shadrack Sebola en sy vrou het hulle tot dié hof gewend om ‘n hofbevel vir skuld teen hulle om te keer, omdat hulle glo nooit ‘n kennisgewing van hul krediteur, Standard Bank, ontvang het nie. Na bewering het Standard Bank wel die paartjie in kennis gestel van hulle regte, waaronder die opsie om ‘n skuldberader te sien. Die Sebolas hou vol dat dié kennisgewing hulle nie by die adres waarheen dit gestuur is, bereik het nie en hulle het vervolgens nie daarop reageer nie.
Die Johannesburgse hooggeregshof het vroeër vanjaar gelas dat die bewys dat ʼn kennisgewing van agterstallige skuld gestuur is, voldoende is. Kragtens die onlangse uitspraak deur die konstitusionele hof is dit nié voldoende nie en moet ʼn eiser bewys kan lewer dat die kennisgewing wel ontvang is alvorens hy stappe teen die persoon kan doen.
Advokaat Edwin Cameron het in die guns van die Sebolas beslis, en die hooggeregshof se bevel is gevolglik tersyde gestel. Cameron het beveel dat Standard Bank die Sebolas se bankkoste moet dek.
“As verbruikers in soortgelyke gevalle beweer kennisgewings het hulle nié bereik nie, moet die howe bepaal of dit die waarheid is,” het Cameron gesê.
Skuleisers is gou om die krediet wet aan te haal as die bepalings daarin hulle pas. Sodra die krediteure nie ag gee op hierdie bepalings nie laat dit die weg oop vir misbruik van verbruikers se regte.