Snerpende Lentedag voorspel; is volgende ystydperk op pad?

Volgens die jongste weervoorspelling van verskeie instansies lyk dit of vanjaar se Lentedag dalk vir groot dele van die land amper die koudste dagtemperatuur van die jaar gaan oplewer.  Volgens die Noorweegse weerdiens gaan Bloemfontein op Sondag 1 September ‘n maksimum van net 12 grade hê. Kaapstad sal 15 grade wees, Johannesburg 14, maar Pretoria sal darem by 17 grade gaan draai. De Aar se maksimum gaan ook net 12 grade wees. Die koue front wat die skerp afname in temperature gaan veroorsaak, sal egter die voorafgaande Vrydag vermoedelik sy ergste byt oor groot dele van die land hê, wanneer die maksimum nog sowat drie grade laer sal wees.

Die nuus oor die komende bibberkoue val saam met nuus dat die aarde binne ‘n dekade op soortgelyke omstandighede afstuur as wat die vorige klein ystydperk veroorsaak het.

Aardverwarming kan van 2020 tot 2070 effens gerem word, en vir ‘n tydjie selfs afneem, sê wetenskaplikes wat die verband tussen sonvlekke en die klimaat op aarde bestudeer. ‘n Artikel is in Mei in die Geophysical Rearch Letters gepubliseer, maar het pas die aandag getrek toe die Christian Science Monitor in die aanloop tot die afhandeling van die verslag vir die Interegeringspaneel oor Klimaatverandering, daaroor berig het.

Gedurende die vorige periode van die laat 16de eeu tot die begin van die 17de eeu, waar sonvlekke ‘n ruk lank opgehou het, het temperature in die noordelike halfrond aansienlik afgeneem. Hierdie sogenaamde klein ystydperk staan as die Maunder Minimum bekend.

Die span onder leiding van Gerald Meehl van die National Center for Atmospheric Research in Boulder, Colorado, meen volgens die huidige patrone van die sonaktiwiteit kan ‘n sonvlek-vrye periode binnekort aanbreek, maar weens die toename in kweekhuisgasse deur onder meer menslike toedoen, sal die temperatuur slegs vir ‘n kort rukkie met ‘n paar tiendes van ‘n graad afneem.

Die vakgebied, bekend as kosmoklimatologie, is goed bekend en word al hoe meer deur ontkenners van klimaatsverandering, en veral ontkenners oor die mens se rol daarin, gebruik om die konvensionele wetenskap se bevindings hieroor verdag te maak, en selfs as ‘n reuse sameswering te beskryf. Kosmoklimatoloë self gaan egter nie so ver om hul bevindings, wat data oor duisende jare verreken, as plaasvervanger vir kweekhuisgasse te beskou nie, maar aanvullend.

Die kosmiese partikels wat met sonsuitbarstings verband hou, word veral in verband gebring met wolkvorming en materiaal waarteen waterdamp kan kondenseer en reën veroorsaak.

Nuwe wetenskappe soos paleo-klimatologie en argeoklimatologie het ontstaan waar wetenskaplikes die verband tussen warmer en kouer periodes, en reënval bestudeer. Selfs die opgetekende annale vn die VOC werp waardevolle lig oor periodes waar die El Nino-verskynsel klaarblyklik ook ‘n invloed gehad het. Amerikaanse en Chinese navorsers meen egter reënvaldata van vorige warmer en kouer periodes kan nie akkuraat met dié van die huidige aardverwarming vergelyk word nie, juis omdat die huidige hoofsaaklik wens menslike toedoen veroorsaak word, en die kweekhuisgasse die vloei van konveksiestrome op ‘n ander manier beïnvloed as tydens ander warmer periodes.

Navorsers wat ‘n verslag aan die wêreld se beleidmakers oor klimaat, bekend as die Interregeringspaneel voorberei, meen die aarde se temperatuur het van 1951 met 0,6 grade toegeneem. Hulle bevinding is dat meer as die helfte van die aardverwarming aan die vermeerdering van kweekhuisgasse in die atmosfeer te wyte is, en hulle het hul beslistheidsberekening dat die mens hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik is van 90% sekerheid, tot 95% opgeradeer.

Sonvlekke is egter nie al aspek van klimaatsverandering wat met die ruimtekunde te make het nie. Een van die moontlike verklarings van die “Agulhas-lek” waardeur groter hoeveelhede warm water uit die Indiese Oseaan na die Atlantiese Oseaan lek, en so invloedryk is dat dit skynbaar ystydperke in die noordelike halfrond kan vertraag of selfs kortknip, is om die siklusse te koppel aan afwykings in die aarde se rotasie om sy as – ‘n siklus van sowat 40 000 jaar.

Meer besonderhede kan hier en meer besonderhede oor die voorgestelde meganisme oor hoe sonvlekke klimaat kan verander kan hier gelees word.

Foto: Woud onder see weens styging in seevlak

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae