Stormers weer op wenpad

Die Stormers het die Cheetahs en Bulls se kanse op onderskeidelik ‘n uitspeelkans en ‘n tuishalfeindronde aansienlik verbeter deur die Reds op Nuweland met 20-15 te klop.

Die halftydtelling was 3-0 in die guns van die Stormers. Dit was egter ‘n uiters saai wedstryd met slegs een drie wat deur die Stormers- en Bok-kaptein, Jean de Villiers, gedruk is. Die Bok-kandidaat Elton Jantjies het vroeg in die tweede helfte ‘n meesterlike skop dwarsoor die veld gegee en ná puik hantering en spelskepping het De Villiers vanaf die Reds se kwartlyn rieme neergelê en oorgeduik.

Dit is die soort spel waarvoor die Kaapse span tradisioneel bekend is, maar nie onder die afrigting van Allister Coetzee na vore kom nie. Die Kapenaars se rotsvaste verdediging kan dalk in ‘n naelbytstryd van groot waarde wees – soos vanaand teen die Reds toe hulle die manne van Brisbane vir talle minute moes weghou van hul doellyn terwyl die eindtoeter reeds geblaas het – maar dit alleenlik wen nie kampioenskappe nie.

Albei spanne het bra doelloos en planloos in die eerste helfte voorgekom. Daar kan met reg gewonder word of dit goeie verdediging of swak aanvalsvermoë was wat só ‘n drieëdroogte veroorsaak het. Joe Pietersen en Quade Cooper het hul spanne deurentyd met hul betroubare skopskoene in die rpentjie gehou met elkeen wat met vyf strafdoele suksesvol was.

Die Stormers pak volgende week die Kings vir die eerste keer en dit gaan interessant wees om te sien wie die pyp gaan rook aangesien hulle onderskeidelik tweede laaste en laaste in die SA konferensie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.