ʼn Taxibestuurder is Saterdag in Pretoria in hegtenis geneem nadat hy 182km per uur in ʼn 120km-sone gejaag het.
Busaphi Nxumalo, ʼn woordvoerder van die Gautengse verkeerpolisie, het gesê die bestuurder is op die N4-snelweg naby Mamelodi aangekeer.
“Die man het gesê hy was onderweg na ʼn vriend in sy private voertuig, ʼn VW Golf, toe hy deur verkeersbeamptes van die pad af getrek is,” het Nxumalo gesê.
Die man is na die Akasia-polisiestasie geneem en is aangekla vir roekelose en nalatige bestuur, asook ʼn spoedoortreding. Hy is later op borgtog vrygelaat en moet Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.