‘The Kiffness’ loop deur onder boewe in VSA

David Scott, The Kiffness

David Scott, beter beknd as die kunstenaar The Kiffness in die VSA waar hy tans toer. (Foto: The Kiffness / Facebook)

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar David Scott, beter bekend as The Kiffness, moes noodgedwonge ʼn optrede in Detroit in die VSA kanselleer nadat die groep se toerusting Dinsdag uit hul voertuig gesteel is.

Terwyl ʼn lid van Scott se span besig was om die omvang van die skade te bepaal, het ʼn tweede verdagte by die bussie opgedaag en die bussie se sleutels geëis.

“Maar hy [lid van die span] kon weghardloop en die polisie bel,” het Scott op X (voorheen Twitter) geskryf.

Dit het nie die rower verhoed om deur die bussie se stukkende venster te klouter en die voertuig verder te plunder nie.

 

Volgens Scott het die polisie opgedaag en die verdagte op die toneel in hegtenis geneem.

Die kunstenaar sê toerusting van ongeveer $5 000 (sowat R92 000) is gebuit. Dit het hom genoop om sy optrede later dieselfde dag te kanselleer.

Scott toer tans deur die VSA met sy musiek wat hy vervaardig uit eienaardige klanke soos Coke-bottels wat op die strand gesleep word, of katte wat melk drink.

“Ek is baie hartseer om ons Detroit-aanhangers in te lig dat ons vertoning vanaand gekanselleer is weens ons toerusting wat uit ons bussie gesteel is,” het Scott geskryf.

Hy moes polisieverklarings aflê en noodgedwonge reëlings tref vir nuwe toerusting en alternatiewe vervoer.

Scott sal tot 18 November in plekke soos Chicago, Denver, Los Angeles en Seattle optree.

Clayson Monyela, adjunk-direkteur-generaal van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het in ʼn boodskap op X sy meegevoel met Scott te kenne gegee.

“Jammer vir die aaklige ervaring. Misdaad is ʼn wêreldwye uitdaging. Laat weet my as jy hulp nodig het van ons Suid-Afrikaanse ambassade in Washington,” het Monyela se boodskap gelui.

Ook talle van Scott se aanhangers het hom sterkte toegewens. Baie was verbaas dat hy in die VSA – en nie op tuisbodem nie – die slagoffer van misdaad geword het.

Doug Walker skryf: “Nie seker in watter deel van Detroit jy is nie. Wees veilig. Daai plek kan woes word. Ongelooflike toer.”

Scott was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Truman Burbank ·

Dit is asof hy die land nooit verlaat het nie. Hoop hy voel nou tuis in VSA. Want geen land is uniek op hierdie sirkus wat ons “aarde” noem

gatgogga ·

Hulle is baie snaaks. Maar jy het natuurlik ‘n sin vir humor nodig.

Karoo ·

Ai… dis ‘n gatslag, en die jong man werk so hard. Ek is bly hulle is veilig, toerusting kan jy altyd vervang.

MC ·

Agge nooit, vir wat moet die hele wereld altyd Suid-Afrika gaan staan en na-aap, nou nog met ons voortreflike misdaad ook, kon julle nou nie maar julle eie misdadige maniere gaan staan en uitdink nie, ook geen verbeelding nie.

ES ·

Die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie – en daar is die bewyse.

Pofadder ·

Detriot, Philadelphia, St Louis, Baltimore, San Francisco, Los Angeles…
Kyk wat hulle in gemeen het. Demokratiese Party beheerde stede.
‘Defund the Police’.
Absolute dumps.
Vermy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.