Tuiniers lewenslank gevonnis

Argieffoto

Die twee tuiniers wat Ida Allen drie jaar gelede in Pretoria-Noord vermoor het, is Vrydag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Allen (60) is dae nadat ‘n buurvrou haar lewend gesien het, onder ‘n sleepwaentjie in haar erf by haar huis in Pretoria-Noord opgespoor. Sy was vasgebinde ‘n plastiek hondekossak is oor haar kop getrek en met ‘n tou om haar nek vasgebind. Sy het versmoor en is verwurg.

Allen was ‘n geskeide pensioenaris sonder kinders. Sy het alleen gebly. Sy was as jong vrou ‘n sekretaresse in voormalige president PW Botha se kantoor toe hy nog die minister van verdediging was.

Regter Mmonoa Teffo het Kelushi Petrus Hlatswayo (27) van Groblersdal en Vincent Tlou Nkgweng (28) van Tembisa in die Pretoriase hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf en 20 jaar gevangenisstraf gevonnis vir moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die polisie het Allen se selfoon tot by die beskuldigdes nagespoor en hulle het ook Allen se vuurwapens in die beskuldigdes se besit opgespoor.

Teffo het gesê dit is erge verswarende omstandighede dat Allen deur die mense wat sy vertrou het, en wat vir haar gewerk het, vermoor is. Hulle het geweet sy bly alleen, het geen kinders nie, en het die moord beplan. “Die beskuldigdes kwalifiseer as die kinders van die oorledene. Hulle is die mense by wie sy om hulp moes kon aanklop, maar hulle het daardie vertroue misbruik,” het Teffo gesê. “Waar sal ons bly as ons aangeval word deur die mense wat ons vertrou en in ons huise werk?”

Teffo het die argument deur die paar se prokureurs dat hulle ligter vonnisse moet ontvang omdat hulle deur hul ma’s en oumas grootgemaak is, verwerp. Beide het ook jong kinders om te versorg. Sy het gesê nie een van hulle het berou getoon nie, en volgehou om hul betrokkenheid te ontken. “Die afleiding kan gemaak word dat hulle Allen se vuurwapens gehou het om ander misdade te pleeg,” het Teffo bygevoeg.

Rina Scheidle, Allen se buurvrou, het die trane weggevee toe die twee gevonnis is. Sy het haar verligting uitgespreek dat die saak uiteindelik verby is, en bevestig dat dit “aaklig” was om weer die besonderhede van die moord aan te hoor. Scheidle het Allen as ‘n “goeie buurvrou obsessief oor sekuriteit” beskryf. “Sy was ‘n kampioenskut in haar jong dae en het altyd haar bure ingelig om nie haar eiendom te betree voordat hulle haar in kennis gestel het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.