Twee skuldig bevind op PTA-Oos-moord

Twee mans van Mamelodi is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria op die moord van die 41-jarige Adriaan Schutte skuldig bevind.

Schutte is in Februarie 2011 tydens ‘n rooftog voor sy vriendin by sy huis in die Leopard Rock-sekuriteitskompleks in Equestria, doodgeskiet. Mfundiso Jerome Mfazwe (30) en John Nape Makobe (38) is ook skuldig bevind dat hulle Schutte, sy dogter Melissa Schutte en sy vriendin, Louise van der Walt, van vier selfone, twee skootrekenaars, ‘n iPod, ‘n beursie en ‘n handsak beroof het.

Schutte en die twee vroue was reeds in die bed toe die beskuldigdes ingebreek en Schutte koelbloedig doodgeskiet het.

‘n Deskundige het getuig dat Schutte geskiet is toe hy gelê en regop gesit het. Hy het op die toneel aan verskeie skietwonde aan sy bors en gesig beswyk.

Van der Walt het getuig dat sy wakker geword het en begin skree het toe sy twee mans in hul slaapkamer gesien het. Sy het gesien hoe hulle Schutte skiet, maar was so getraumatiseer dat sy die aanvallers nie kon beskryf nie.

Schutte se dogter, Melissa, het Mfazwe as een van die mans in haar slaapkamer uitgeken.

Beide mans het prontuit ontken dat hulle enigiets met die moord te doen gehad het en het getuig dat die polisie hulle aangerand het. Mfazwe se palmafdruk is in die kombuis opgespoor.
Regter Webster het gesê dat die twee beskuldigdes gewapen was toe hulle by die huis ingebreek het.

Die vonnisoplegging is tot 28 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.