Twee mense is dood nadat ʼn bakkie Sondag in Potchefstroom in Noordwes omgeslaan het.
Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, sê die bakkie het 15 mense vervoer en was glo op pad terug van ʼn sokkerwedstryd. “Die bestuurder van die bakkie het glo beheer verloor waarna die bakkie omgeslaan en verskeie kere gerol het.” Jackson sê die passasiers wat agter op die bakkie gesit het, is van die bakkie geslinger. “Twee van die jong mans het ernstige beserings opgedoen en is later op die toneel dood verklaar.” Jackson sê nog twee mans is kritiek beseer en na nabygeleë hospitale gehaas vir verdere behandeling. “Die oorblywende 11 pasiënte insluitend die twee mans wat voor in die bakkie gesit het, is op die toneel vir ligte beserings behandel voor hulle na hospitale geneem is vir verdere behandeling.”