Vakbond sê stakings en afleggings veroorsaak onsekerheid in mynbedryf

Die Suid-Afrikaanse mynbedryf is in 2012 deur gewelddadige stakings en afleggings geteister wat tot grootskaalse onsekerheid onder werknemers en buitelandse beleggers gelei het.

Volgens die vakbond Solidariteit moet daar in die volgende jaar spesiale aandag aan hierdie kwessies geskenk word om ʼn herhaling daarvan te voorkom. ʼn Werknemer van Amplats se voormalige Amandelbult-myn, nou die Tugela- en Dishaba-myne, is op 12 November 2012 tydens nóg ʼn gewelddadige staking met ʼn klip doodgegooi. Die staking is Woensdag beëindig en die stakende mynwerkers se verteenwoordiger sal Donderdag met die bestuur van die myn vergader ten einde ʼn ooreenkoms te bereik.

ʼn Soortgelyke staking by Lonmin se Marikana-myn, wat tot die dood van 45 mynwerkers gelei het, het nou ook aanleiding gegee tot afleggings by dié maatskappy. Die maatskappy het nog nie aangedui hoeveel werknemers deur die beplande afleggings geraak kan word nie. Lonmin het wel te kenne gegee dat hy van plan is om sy produksie by Marikana oor die volgende twee jaar tot 750 000 onse te beperk.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, kan stakings ʼn bydraende faktor tot die ontstaan van afleggings by ʼn maatskappy wees. “Hoewel alle stakings nie noodwendig op afleggings uitloop nie, bring dit definitief onsekerheid in die bedryf mee,” het Kruger gesê. Verskeie myne van 14 mynmaatskappye het in 2012 onder stakings deurgeloop.

Werknemers van Village Main Reef se Buffelsfontein-myn het verlede week weer teruggekeer werk toe nadat hulle sedert verlede Maandag gestaak het te midde van onderhandelinge tussen vakbonde en die bestuur van die myn om potensiële afleggings te beperk. Hoewel daar geen formele artikel 189-kennisgewings aan die betrokke vakbonde gestuur is nie, het die maatskappy vroeër aangedui dat sowat 400 van sy werknemers oorbodig is. Die potensiële afleggings is egter intussen na 20 verminder.

Solidariteit beraadslaag tans met verskeie mynmaatskappye oor beplande afleggings:

– ArcelorMittal in Vanderbijlpark se tydelike sluiting het tot gevolg dat 140 poste verlore gaan. Daar is egter in hierdie stadium geen sprake van afleggings nie aangesien die werknemers tans in ArcelorMittal herplaas word.
– JIC het dit in ’n artikel 189-kennisgewing aan Solidariteit bekendgemaak dat hy beplan om 281 werknemers by Hernic Ferrochrome af te lê as gevolg van die verandering van die diensooreenkoms tussen die twee partye nadat daar besluit is om ’n alternatiewe sakemodel te gebruik. JIC beplan ook om 376 werknemers by International Ferro Metals af te lê aangesien sy kontrak met die maatskappy nie hernu gaan word nie.
– Die Witkop-vloeispaatmyn buite Zeerust in Noordwes beplan om 220 uit 225 werknemers voor die einde van die jaar af te lê. Die maatskappy sê die myn is weens die heersende ekonomiese klimaat nie meer winsgewend genoeg nie en moet daarom noodgedwonge sy deure sluit.
– Highveld Steel in eMalahleni het in Mei ’n artikel 189-kennisgewing aan die vakbond gestuur waarin hy aandui dat byna 100 van sy lede afgelê gaan word. Solidariteit kon egter daarin slaag om skeidingspakette vir sy lede te beding.
– COAL of Africa (CoAL) het by hul Mooiplaats-steenkoolmyn met ʼn artikel 189-afleggingsproses begin wat tot gevolg kan hê dat 20 uit 368 werknemers afgelê kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.