
Coin Security-vragmotor
Die 50-jarige man is Dinsdag in Hekpoort, Krugersdorp in hegtenis geneem nadat hy glo met Coin Security-maatskappy kontantinvorderings-kwitansies betrap is, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê. Twee kontantinvorderingsbokse en ʼn kontant-in-transito-vragmotor wat uitmekaar gehaal is, is ook opgespoor. Die man en sy medepligtiges het na winkels en maatskappye gegaan om die kontant in te vorder voordat die regte vragmotors opgedaag het, het Ndou bygevoeg. Volgens Ndou is die vragmotor in 2010 uit Diepkloof as ʼn gesteelde voertuig aangemeld. Die polisie vermoed dat die man die vragmotor toe in ʼn kontant-in-transito-vragmotor verander het, maar dit weer uitmekaar gehaal het, toe die polisie op sy spoor was. Die man word aan 22 vervalsde invorderingsvoorvalle in Gauteng sedert 2010 gekoppel. Hy sal Donderdag in die landdroshof in Krugersdorp verskyn. Polisie sal na verwagting binnekort nog mense in hegtenis neem.