Drie mans van Limpopo wat daarvan aangekla word dat hulle ʼn 22-jarige man oor die naweek vermoor het nadat hy glo hul klere gesteel het, het Woensdag vlugtig in die landdroshof in Mankweng verskyn.
Peter Setati, Thomas Motala en Jerry Motale sal na verwagting volgende week Woensdag tydens hul volgende verskyning in die hof hul borgaansoek indien, het konstabel Moses Molepo, woordvoerder vir die polisie gesê. Sesele Mutavhatsindi is dood nadat hy glo Saterdagaand deur dié drie mans aangerand is. Sy liggaam is ʼn kilometer verder agtergelaat en is Sondag deur inwoners ontdek.
“Die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie die reg in eie hande te neem nie en om die kriminele regstelsel van die land te gebruik om met vermeende rowers en ander kriminele af te reken,” het Molepo gesê.