100 jaar van radio wêreldwyd gevier

(Foto: Nacho Carretero Molero/Unsplash)

Dit is vanjaar ʼn eeu sedert die heel eerste regstreekse radiouitsending in 1924 plaasgevind het op die vooraand van die aanvang van die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk.

Dié mylpaal herinner ons dat radio sedert sy ontstaan teen die einde van die 19de eeu ʼn onlosmaaklike deel van die samelewing is.

Só sê Audrey Azoulay, direkteur-generaal van die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco). Die jaarlikse viering van Wêreldradiodag op 13 Februarie elke jaar, is deur dié organisasie ingestel.

Vanjaar se tema is “Radio: A Century Informing, Entertaining, and Educating”.

“Radio is nog altyd saam met ons en bind ons saam in kragtige oomblikke en gedeelde emosies. So, oor ʼn eeu heen, word ons ingelig, vermaak en opgevoed, soos wat daar deur vanjaar se tema onderstreep word.”

Volgens Azoulay is daar steeds meer as vier miljard radioluisteraars wêreldwyd, en beskik meer as ʼn derde van die wêreld se bevolking nie oor ʼn betroubare internetverbinding nie.

Radio is ook meer inklusief en toeganklik, veral in landelike gebiede, as bron van inligting en vermaak.

“Radio gee ʼn stem aan die stemloses, bemagtig alle individue en gemeenskappe om hulself uit te druk, en skep diversiteit van kulture in die lewe. Dit is waarom Unesco gemeenskapsradio reg oor die wêreld aanmoedig.”

Volgens Charonike Nel, musieksamesteller en omroeper by die Pretoriase gemeenskapsradiostasie Groot FM, is radio een van die belangrikste mediums van kommunikasie in Suid-Afrika.

“Buiten ons sosio-ekonomiese omstandighede, wat daartoe bydra dat radio nog steeds die mees toeganklike medium in ons land is, sal dit ook die mees persoonlike medium bly.

“Daar is iets spesiaal en amper magies aan radio, want dit maak nie saak of jy in jou badkamer, sitkamer of agter op ʼn bakkie is nie, daai persoon praat met jou en jy kan regstreeks met daai persoon kommunikeer,” sê Nel.

“Die onmiddellike verbintenis tussen twee mense wat kilometers uit mekaar sit, is spesiaal. Dit is ʼn voorreg om in radio te kan werk en om nie net vandag nie, maar elke dag, radio te kan vier.”

Charonike Nel agter die Groot FM-mikrofoon. (Foto: Facebook/Groot FM)

Riaan Grobler, omroeper by Pretoria FM, sê radio is soms luisteraars se enigste geselskap en is die enigste medium wat steeds groei in luisteraarsyfers.

“Dis in jou kar, in jou huis, en dis so belangrik want dis die plek waar jy nuus, vermaak en lekker geselskap kan kry. Dis ʼn ongelooflike voorreg om in radio te kan werk en in mense se huise en motors te kan kuier.”

Volgens Ignaz Streicher, bestuurder en omroeper by Overvaal Stereo op Viljoenskroon in die Vrystaat, is Wêreldradiodag ʼn belangrike datum op die radiowese se kalenders.

“Dit is ʼn dag waarop daar net weereens bevestig word wat die krag van ʼn medium soos radio is en dat ons pogings as omroepers om die wêreld in te lig en op te voed, nie ongesiens verby gaan nie.”

Lynden Jafta, eienaar, stigter en omroeper van die gemeenskapsradiostasie Paarl FM in die Wes-Kaap, sê radio skep hoop vir die hopelose en bied vermaak vir luisteraars wat deur ʼn moeilike tyd gaan.

“Die krag van radio is wanneer jy dit aanskakel. Jy as omroeper moet so ʼn prentjie vir jou luisteraar skep dat hulle dit só duidelik kan sien en die hoop daaruit kan put.”

Rikus van Rooy, programbestuurder by Tygerberg FM in die Wes-Kaap, sê radio het oor ʼn eeu heen bewys dit is ʼn betroubare platform.

“Radio dra relevante inligting en spreek tot luisteraars se harte. Dit is ʼn intieme medium wat wêreldwyd ʼn verskil in mense se lewens maak.”

(Foto: pixabay)

Liomee Vosloo, omroeper by Tygerberg FM, beaam dié stelling. “Radio is ʼn kragtige medium om mense onmiddellik met ʼn boodskap van hoop te bereik.”

“Radio beteken vermaak vir die verafgeleë plaasbewoner; dis die suurstof vir die afgesonderde sieke wat alleen in sy bed lê,” sê Marianne van Niekerk, omroeper by Radio Namakwaland op Vredendal.

“Radio bied opleiding vir die ongeskoolde en dikwels is dit ʼn reddingsboei vir die moedelose om nie te bly lê nie, maar om op te staan en weer te probeer.

“Lank lewe die draadloos!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Laeik ·

As die aliens nou na die aarde toe vlieg en hulle is n 100 ligjare weg sal hulle die ou nuus hoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.