12 perde vrek by Kentucky Derby-renbaan

149ste Kentucky Derby by Churchill Downs-renbaan in Louisville, Kentucky in die VSA (6 Mei 2023) (Foto: Leandro Lozada/AFP)

Alle wedrenne sal aan die einde van dié naweek se kompetisie by Churchill Downs, waar die bekende Kentucky Derby aangebied word, opgeskort word. Veiligheidsmaatreëls moet ondersoek word ná 12 perde die afgelope maand hier gevrek het, het beamptes Vrydag gesê.

Aangesien bedrywighede by die ikoniese renbaan in Louisville, Kentucky in die VSA nie meer sal kan voortgaan nie, sal die res van die sogenaamde Spring Meet, wat tot 3 Julie geskeduleer is, na Ellis Park in Henderson, Kentucky verskuif word. Die eerste byeenkoms is op 10 Junie.

Churchill Downs Incorporated het Vrydag in ʼn verklaring gesê beamptes sal ʼn omvattende hersiening doen van alle veiligheid- en oppervlakprotokol en integriteitsmaatreëls, in samewerking en konsultasie met kenners van reg oor die land.

Dit kom ʼn dag ná Churchill Downs aangekondig het dat nuwe veiligheidsmaatreëls ingestel sal word om veiligheid vir die perde te verbeter. Dit sluit in dat perde beperk word tot vier wegspringe oor agt weke en ʼn verbod op perde wat nie goed presteer nie.

Beamptes het ook ʼn program met aansporingsbonusse tydelik opgeskort – dit sluit in bonusse vir afrigters en uitbetalings aan elke deelnemer wat die wedren voltooi – van eerste tot laaste plek.

Die rede vir die perde se vrektes is egter steeds ʼn raaisel en Churchill Downs se beamptes het besluit om eerder die veiligheidsmaatreëls te hersien “as ʼn absolute voorsorgmaatreël”.

“Ná ʼn deeglike interne hersiening en gevolglike ondersoek deur die Kentucky-kommissie oor Perdesport en die Integriteit- en Veiligheidsowerheid oor Perdesport (HISA), was daar nie ʼn enkele faktor wat geïdentifiseer is as ʼn moontlike oorsaak nie en daar was ook nie enige patroon om die vrektes met mekaar te verbind nie,” het Churchill Downs in ʼn verklaring gesê.

Diagnostiese toetse van die renbaan deur kenners het ook nie enige kommer laat ontstaan nie en die kenners het bepaal dat die oppervlak voldoen aan vorige metings van Churchill Downs tydens vorige jare.

“Alhoewel die ondersoeke en kenners se verslae aangedui het dat daar nie enige probleme met die oppervlak is nie, kies CDI om eerder – as ʼn absolute voorsorgmaatreël – en in lyn met ʼn aanbeveling van HISA, die byeenkoms te skuif sodat ʼn omvattend hersiening gedoen kan word van alle veiligheid- en oppervlakprotokol.”

Mage het die Kentucky Derby op 6 Mei gewen ná sewe perde binne 10 dae by Churchill Downs gevrek het. Twee van die perde moes van kant gemaak word toe hulle tydens ondersteuningswedrenne op Derbydag beseer is.

Die 11de en 12de vrektes het verlede Vrydag en Saterdag plaasgevind tot Lost in Limbo en Kimberley Dream beserings tydens die wedren opgedoen het en ook van kant gemaak moes word.

Ellis Park word ook besit en bestuur deur Churchill Downs Inc., en uitvoerende hoof Bill Carstanjen het gesê om die res van die byeenkoms soontoe te skuif, beteken dat die organisasie kan voldoen aan sy “enorme verantwoordelikheid as die ekonomiese enjin van die volbloedbedryf in Kentucky wat werk en inkomste aan duisende families elke dag verskaf”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.