15 dood tydens klopjag in Sri Lanka

Foto: (AP Photo/Eranga Jayawardena)

Minstens 15 mense is Vrydag dood tydens ʼn skietvoorval tussen die polisie en beweerde Islamitiese militante in die ooste van Sri Lanka terwyl plaaslike polisie onverpoos soek na diegene wat verantwoordelik is vir verlede week se bomaanvalle in dié land.

Die BBC berig polisie het in reaksie op ʼn wenk ʼn klopjag van stapel gestuur in Sainthamaruthu, suid van die kusdorp Batticaloa. Die gewapende beweerde militante groep het verskeie ontploffings tydens dié klopjag laat afgaan waarna ʼn skietgeveg tussen die polisie en die groep uitgebreek het.

Troepe het Saterdagoggend die toneel deursoek waar hulle op 15 liggame afgekom het wat vermoedelik dié van die vermeende skieters in die klopjag was. Sommige burgerlikes het egter ook in die kruisvuur beland.

Volgens CNN het ses beweerde militante en nege burgerlikes, onder wie ses kinders, in dié skietgeveg omgekom, het genl.maj. Aruna Jayasekera gesê.

Een gewonde verdagte het op ʼn motorfiets gevlug terwyl ʼn ander militant ook moontlik nog op vrye voet is, het Jayasekera gesê. Die polisie ondersoek die verbintenis van die burgerlikes met die vermeende militante.

Tydens ʼn ander klopjag in dieselfde dorp het die polisie op Isis-vlae, 150 stokkies geligniet, duisende staalkoeëltjies asook ‘n hommeltuig-kamera afgekom, het ʼn militêre woordvoerder gesê.

Dié klopjagte volg ná die gekoördineerde aanvalle op Paassondag wat die lewe van 253 mense geëis het, onder wie baie gelowiges wat Paasfeesdienste bygewoon het.

Plaaslike media berig tien mense is Vrydag oor die hele land in hegtenis geneem weens hulle betrokkenheid by die bomaanvalle. Altesaam 80 mense is dus sedert Sondag aangekeer, het BBC berig.

Maroela Media het vroeër berig ses bomme het amper gelyktydig in die hoofstad, Colombo, in Sri Lanka op Paassondag ontplof.  ʼn Kerk en drie hotelle is tydens dié aanval geteiken.

Nog twee bomme het kort daarna buite die stad ontplof. Een van dié bomontploffings was by ʼn gastehuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Boerboel ·

Lyk my die Polisie doen hulle werk en kry mense gevang.. Anders as hier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.