Aanklaer wil Shakira agt jaar tronk toe stuur

Die bekende popsangeres Shakira. (Foto: Bryan R. Smith / AFP)

Staatsaanklaers in Spanje wil hê die Colombiaanse popsangeres Shakira moet meer as agt jaar tronkstraf uitdien indien sy skuldig bevind word aan beweerde belastingsbedrog waarvan sy tans aangekla word.

Shakira, wat meer as 80 miljoen albums wêreldwyd verkoop het, word daarvan beskuldig dat sy versuim het om die Spaanse regering $15 miljoen (ongeveer R246 miljoen) in belastinggeld te betaal. Aanklaers wil ook hê sy moet ʼn astronomiese boete van $24 miljoen (R395 miljoen) betaal.

Die oortreding is glo tussen 2012 en 2014 begaan.

In hierdie tyd, beweer aanklaers, het Shakira glo meer as die helfte van elke jaar in Spanje vertoef, en sy moet dus belasting aan die Spaanse regering betaal. Shakira sê egter sy het nié toe in Spanje gewoon nie, berig The Guardian.

Shakira het onlangs haar huwelik met die Spaanse sokkerster Gerard Piqué beëindig. Die twee was 11 jaar lank in ʼn verhouding en het twee kinders saam. Die gesin het in die Spaanse hoofstad Barcelona gewoon.

Volgens die Amerikaanse uitsaaier ABC News, het Shakira die afgelope week geweier om ʼn skikkingsooreenkoms met aanklaers te bereik, en het sy gekies om eerder die klagte in ʼn hof te beveg. ʼn Hofdatum is nog nie vasgestel nie.

Die sangeres ontken die klagte teen haar. ʼn Verklaring deur haar uitgewer in Londen Vrydag lui dat sy nog altyd haar samewerking gee en ʼn wetsgehoorsame burger is. “Haar gedrag is onberispelik, as ʼn individu sowel as ʼn belastingbetaler.” Die uitgewer beskuldig die Spaanse belastingsagentskap daarvan dat hulle Shakira se regte skend.

Tog sê haar woordvoerder sy het vroeër die week die bedrag wat sy na bewering skuld, met rente, aan die Spaanse belastingsagentskap oorbetaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.